PSALMS 102:1-28

PSALMS 102:1-28 AFR83

Gebed van 'n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here. Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie van my afsydig hou nou dat ek in die nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed, want vir my verdwyn die dae soos rook. My liggaam brand soos vuur, ek is verskroei en uitgedroog soos gras, ek het alle eetlus verloor. Ek het net vel en been geword van al die pyn. Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn, soos 'n uil tussen murasies. As ek wakker word, voel ek soos 'n eensame voël op 'n huis se dak. Die dae deur verneder my vyande my. Dié wat my so verkleineer, gebruik my naam as 'n vloekwoord. As is my daaglikse brood; wat ek drink, is met my trane gemeng, want u toorn en u gramskap het my getref, U het my verwerp en weggegooi. Soos 'n skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde, ek is soos verdroogde gras. U, Here, U heers vir altyd, U is daar van geslag tot geslag. U sal ingryp en U oor Sion ontferm, want die bestemde tyd het aangebreek, die tyd om hom genadig te wees. Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief, ons is bewoë oor sy puin. Die nasies sal die Here vrees en al die konings van die aarde sy mag, want die Here gaan Sion weer opbou wanneer Hy in sy mag verskyn. Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie. Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom, sodat die nuut geskape volk die Here kan loof. Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur, die gekerm van die gevangenes gehoor en dié wat naby die dood was, bevry. Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing en sy lof in Jerusalem wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die Here te dien. Hy het my krag gebreek toe ek nog jonk was, Hy het my lewe verkort. Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie! U is daar deur die geslagte heen. In die voortyd al het U die aarde gevestig en die hemele met u eie hande gemaak. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos 'n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.”