PSALMS 102:1-28

PSALMS 102:1-28 Bybel vir almal (ABA)

'n Gebed vir iemand wat swaarkry, wanneer hy swak voel en by die Here wil kla. Here, U moet na my gebed luister, U moet hoor hoe ek roep en vra dat U my moet help. Dit gaan sleg met my, U moenie maak of U dit nie sien nie. U moet luister wanneer ek tot U bid, U moet my gou antwoord. Want my dae gaan verby soos rook, my liggaam brand soos vuur. Ek voel soos gras wat droog geword het nadat iemand dit plat getrap het, want ek is nie meer lus om te eet nie. Ek hou aan om te kla van die pyn, ek is baie maer, net vel en been. Ek is soos 'n pelikaan in die woestyn, ek het geword soos 'n uil tussen hope klippe. Ek kan nie slaap nie, ek is soos 'n voël wat alleen op 'n dak sit. My vyande spot my die hele dag, die mense wat my beledig, sê my naam wanneer hulle ander mense wil vervloek, want ek eet as, dit is my kos, en alles wat ek drink, is vol van my trane. Dit is omdat U so kwaad is vir my. U het my opgetel en weggegooi. My lewe is amper verby, dit is soos wanneer die skaduwee in die aand lank word en verdwyn. Ek is soos gras wat droog geword het. Maar, Here, U is altyd Koning, elke geslag ken u Naam. U sal kom en jammer wees vir Sion, want die tyd het gekom dat U goed moet wees vir Sion. Ja, dit is nou die tyd. Sion is nou net hope klippe en stof, maar ons, u dienaars, is lief en jammer vir die stad. Die volke sal bang word wanneer hulle die Naam van die Here hoor. Al die konings op die aarde sal bang word wanneer hulle sien dat U Koning is. Ja, die Here bou weer die mure van Sion, Hy wys vir almal dat Hy Koning is. Hy hoor die gebede van die mense wat niks het nie, hulle gebede is vir Hom belangrik. Julle moet dit opskryf sodat die volgende geslag dit kan lees, sodat die kinders wat later gebore sal word, die Here kan prys. Hulle sal Hom prys, want Hy het uit die heilige hemel daarbo afgekyk na die aarde en Hy het gehoor dat die gevangenes kla en sug. Hy het oopgemaak en die mense gered wat naby die dood was. Die kinders wat later gebore sal word, sal in Sion die Naam van die Here sê, hulle sal Hom prys in Jerusalem wanneer die volke, die mense uit ander lande, bymekaarkom om die Here te dien. Die Here het my swak laat word toe ek jonk was, Hy het my lewe kort gemaak. Ek sê: My God, U moenie my nou wegneem nie, ek het nog nie klaar gelewe nie. U self lewe vir altyd en altyd. Lank gelede het U die aarde vas laat staan, en U het self die hemel gemaak. Die aarde en die hemel sal verdwyn, maar U sal altyd daar wees. Hulle sal word soos ou klere, hulle sal verdwyn soos klere wat 'n mens uittrek en weggooi. Maar U bly altyd dieselfde, U lewe vir altyd.

PSALMS 102:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N GEBED van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. O HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom! Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou! Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos 'n vuurherd. Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet. Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees. Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos 'n uil op die puinhope. Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak. Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as 'n vloek. Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane, vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp. My dae is soos 'n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek. Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag. Ú sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom. Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin. Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid; omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het, Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie. Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof; omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het, om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood; sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem, as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien. Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort. My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie — u jare is van geslag tot geslag! In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Húlle sal vergaan, maar Ú sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.

PSALMS 102:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Gebed van 'n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here. Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie van my afsydig hou nou dat ek in die nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed, want vir my verdwyn die dae soos rook. My liggaam brand soos vuur, ek is verskroei en uitgedroog soos gras, ek het alle eetlus verloor. Ek het net vel en been geword van al die pyn. Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn, soos 'n uil tussen murasies. As ek wakker word, voel ek soos 'n eensame voël op 'n huis se dak. Die dae deur verneder my vyande my. Dié wat my so verkleineer, gebruik my naam as 'n vloekwoord. As is my daaglikse brood; wat ek drink, is met my trane gemeng, want u toorn en u gramskap het my getref, U het my verwerp en weggegooi. Soos 'n skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde, ek is soos verdroogde gras. U, Here, U heers vir altyd, U is daar van geslag tot geslag. U sal ingryp en U oor Sion ontferm, want die bestemde tyd het aangebreek, die tyd om hom genadig te wees. Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief, ons is bewoë oor sy puin. Die nasies sal die Here vrees en al die konings van die aarde sy mag, want die Here gaan Sion weer opbou wanneer Hy in sy mag verskyn. Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie. Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom, sodat die nuut geskape volk die Here kan loof. Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur, die gekerm van die gevangenes gehoor en dié wat naby die dood was, bevry. Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing en sy lof in Jerusalem wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die Here te dien. Hy het my krag gebreek toe ek nog jonk was, Hy het my lewe verkort. Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie! U is daar deur die geslagte heen. In die voortyd al het U die aarde gevestig en die hemele met u eie hande gemaak. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos 'n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.”

PSALMS 102:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Gebed. Van 'n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die HERE uitstort. HERE, hoor tog my gebed! Laat my hulpkreet U bereik! Moet tog nie u gesig vir my verberg in my tyd van nood nie. Draai u oor na my in die tyd wanneer ek roep; antwoord my gou! Want my dae eindig in rook, my gebeente word verskroei asof in 'n vuurherd. My hart is platgeslaan en verdor soos onkruid, ja, ek vergeet om my brood te eet. Vanweë my harde gekla is ek net vel en been. Ek is soos 'n bontkraai in die woestyn; ek het geword soos 'n naguiltjie op puinhope. Ek lê wakker; ek het geword soos 'n eensame voël op 'n dak. Die hele dag dryf my vyande die spot met my; dié wat met my die gek skeer, gebruik my naam in verwensings. Want stof eet ek soos brood, en wat ek drink, meng ek met trane, vanweë u vervloeking en u grimmigheid; ja, U het my opgetel en neergegooi. My dae is soos 'n skaduwee wat lank word, en ek, soos onkruid verdroog ek. Maar U, HERE, U heers vir ewig; u gevierde Naam duur van geslag tot geslag. U self sal opstaan, U oor Sion ontferm, want dit is tyd om haar genadig te wees; ja, die aangewese tyd het gekom. Haar klippe is immers kosbaar vir u diensknegte, hulle is begaan oor haar puin. Nasies sal ontsag hê vir die Naam van die HERE, en al die konings van die aarde vir u majesteit, wanneer die HERE Sion herbou en Hy in sy majesteit verskyn. Hy sal Hom wend na die gebed van die brandarmes; Hy sal hulle gebed nie minag nie. Dit moet neergeskryf word vir 'n volgende geslag, sodat die volk wat geskep word, die HERE sal loof met die woorde: “Die HERE het afgekyk uit sy hoë heiligdom; uit die hemel het Hy die aarde beskou, om die gesug van gevangenes te hoor, om dié wat gedoem was tot die dood, te bevry, om in Sion die Naam van die HERE te verkondig en sy lof in Jerusalem, wanneer volke byeenkom, ja, koninkryke, om die HERE te dien.” Hy het op die lewenspad my krag gebreek, Hy het my dae kortgeknip. Ek sê: “My God, moet my nie wegneem teen die helfte van my lewensdae nie. Van geslag tot geslag duur u jare. Voor alle tye het U die aarde gevestig; die hemel is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan. Soos 'n kledingstuk sal hulle almal verslyt; soos 'n bokleed vervang U hulle, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare sal nie tot 'n einde kom nie.”

PSALMS 102:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hoor my gebed, HERE, en laat my hulpgeroep tot U kom. Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, antwoord my gou. Want my dae is verteer soos rook, en my gebeente brand soos 'n vuurherd. My hart is geslaan en verdor soos gras; sodat ek vergeet om my brood te eet. Vanweë die stem van my kreun kleef my gebeente aan my vel. Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek is soos 'n uil van die woestyn. Ek waak en is soos 'n mossie alleen op die dak. My vyande smaad my die hele dag; en die wat teen my kwaad is, word teen my gesweer. Want ek het as geëet soos brood en my drank gemeng met geween, Vanweë u grimmigheid en u toorn, want U het my opgehef en my neergewerp. My dae is soos 'n skaduwee wat sak; en ek is verdor soos gras. Maar U, HERE, sal vir ewig bestaan; en u gedagtenis van geslag tot geslag. Jy sal opstaan en jou oor Sion ontferm, want die tyd om haar te behaag, ja, die vasgestelde tyd, het aangebreek. Want u dienaars het 'n welbehae in haar klippe en behaag die stof daarvan. Daarom sal die nasies die Naam van die HERE vrees, en al die konings van die aarde u heerlikheid. Wanneer die HERE Sion opbou, sal Hy in sy heerlikheid verskyn. Hy sal die gebed van die behoeftiges ag en hulle gebed nie verag nie. Dit sal geskrywe word vir die volgende geslag: en die volk wat geskape sal word, sal die HERE loof. Want Hy het van die hoogte van sy heiligdom neergekyk; uit die hemel het die HERE die aarde aanskou; Om die gekerm van die gevangene te hoor; om dié wat ter dood aangestel is, te los; om die Naam van die HERE in Sion te verkondig en sy lof in Jerusalem; Wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die HERE te dien. Hy het my krag op die pad verswak; hy het my dae verkort. Ek het gesê: My God, neem my nie weg in die middel van my dae nie; U jare is van geslag tot geslag. Van ouds het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van U hande. Hulle sal vergaan, maar jy sal standhou; ja, hulle sal almal soos 'n kleed oud word; soos 'n kleed moet jy hulle verander, en hulle sal verander word. Maar jy is dieselfde, en jou jare sal geen einde hê nie. Die kinders van U dienaars sal bly, en hulle nageslag sal voor U vasstaan.

PSALMS 102:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

HERE, luister na my gebed! Hoor my smeking om hulp! Moenie van my wegdraai wanneer ek in nood is nie. Luister tog wanneer ek U aanroep en antwoord my tog gou, want my dae verdwyn soos rook, my bene brand soos gloeiende kole. My hart is verdor, verlep soos gras; ek het vergeet hoe om te eet. As gevolg van my versugting is ek net vel en been. Ek is soos ’n uil in die woestyn, soos ’n naguil tussen murasies. Ek lê wakker, soos ’n eensame voël op ’n dak. My vyande beledig my dag na dag. Hulle spot en vloek my. Ek eet as in plaas van kos. My trane meng met wat ek drink weens u gramskap en u toorn. Ja, U het my opgetel en my weggegooi. My lewe is soos ’n skaduwee wat langer word. Ek is verskrompeld soos gras. Maar U, HERE, sal vir altyd regeer. U bly onthou van geslag tot geslag. U sal verskyn en U oor Sion ontferm, want dis tyd om genadig te wees; die bestemde tyd het aangebreek. Want u dienaars het elke klip daarvan lief, en ontferm hulle selfs oor die puin. Nasies sal die HERE se Naam vereer, die konings van die aarde, u mag. Wanneer die HERE Jerusalem herbou, sal Hy verskyn in sy heerlikheid, sal Hy luister na behoeftiges se gebede, en hulle pleidooi nie verwerp nie. Dit moet opgeskryf word vir geslagte wat kom sodat ’n volk wat nog geskep sal word, die HERE sal prys. Vanuit sy hemelse heiligdom het Hy neergekyk. Die HERE het vanuit die hemel na die aarde gekyk om te luister na die smekinge van mense in tronke; om hulle wat veroordeel is, te red van die dood, sodat hulle die Naam van die HERE in Sion sal verkondig, en sy lofsange in Jerusalem, wanneer skares bymekaarkom, en koninkryke kom om die HERE te dien. In my jeug het Hy my krag gebreek, Hy het my dae verkort. Maar ek het gesmeek: “My God, moenie my lewe neem terwyl ek nog so jonk is nie! U is daar, geslag na geslag. In die begin het U die aarde gevestig; die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U is vir altyd; soos klere sal hulle verslyt. U sal hulle uittrek soos kledingstukke, en hulle sal verdwyn. Maar U is altyd dieselfde; u jare ken geen einde nie.