Psalms 102:1-28

Psalms 102:1-28 AFR20

'n Gebed. Van 'n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die HERE uitstort. HERE, hoor tog my gebed! Laat my hulpkreet U bereik! Moet tog nie u gesig vir my verberg in my tyd van nood nie. Draai u oor na my in die tyd wanneer ek roep; antwoord my gou! Want my dae eindig in rook, my gebeente word verskroei asof in 'n vuurherd. My hart is platgeslaan en verdor soos onkruid, ja, ek vergeet om my brood te eet. Vanweë my harde gekla is ek net vel en been. Ek is soos 'n bontkraai in die woestyn; ek het geword soos 'n naguiltjie op puinhope. Ek lê wakker; ek het geword soos 'n eensame voël op 'n dak. Die hele dag dryf my vyande die spot met my; dié wat met my die gek skeer, gebruik my naam in verwensings. Want stof eet ek soos brood, en wat ek drink, meng ek met trane, vanweë u vervloeking en u grimmigheid; ja, U het my opgetel en neergegooi. My dae is soos 'n skaduwee wat lank word, en ek, soos onkruid verdroog ek. Maar U, HERE, U heers vir ewig; u gevierde Naam duur van geslag tot geslag. U self sal opstaan, U oor Sion ontferm, want dit is tyd om haar genadig te wees; ja, die aangewese tyd het gekom. Haar klippe is immers kosbaar vir u diensknegte, hulle is begaan oor haar puin. Nasies sal ontsag hê vir die Naam van die HERE, en al die konings van die aarde vir u majesteit, wanneer die HERE Sion herbou en Hy in sy majesteit verskyn. Hy sal Hom wend na die gebed van die brandarmes; Hy sal hulle gebed nie minag nie. Dit moet neergeskryf word vir 'n volgende geslag, sodat die volk wat geskep word, die HERE sal loof met die woorde: “Die HERE het afgekyk uit sy hoë heiligdom; uit die hemel het Hy die aarde beskou, om die gesug van gevangenes te hoor, om dié wat gedoem was tot die dood, te bevry, om in Sion die Naam van die HERE te verkondig en sy lof in Jerusalem, wanneer volke byeenkom, ja, koninkryke, om die HERE te dien.” Hy het op die lewenspad my krag gebreek, Hy het my dae kortgeknip. Ek sê: “My God, moet my nie wegneem teen die helfte van my lewensdae nie. Van geslag tot geslag duur u jare. Voor alle tye het U die aarde gevestig; die hemel is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan. Soos 'n kledingstuk sal hulle almal verslyt; soos 'n bokleed vervang U hulle, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare sal nie tot 'n einde kom nie.”