SPREUKE 29:1-14

SPREUKE 29:1-14 AFR83

'n Man wat hom bly verset teen teregwysings, kom skielik tot 'n val en staan nie weer op nie. 'n Volk juig as regverdige mense die mag kry; 'n volk sug as 'n goddelose mens regeer. 'n Man wat wysheid hoog aanslaan, maak sy vader gelukkig; een wat hom met prostitute ophou, vermors sy besittings. 'n Koning wat reg laat geskied, maak 'n land veilig; een wat net belastings oplê, ruïneer 'n land. 'n Man wat 'n ander vlei, is besig om hom in 'n strik te laat loop. 'n Mens se sonde is sy grootste gevaar. Iemand wat reg doen, kan vrolik sing. 'n Regverdige mens is besorg oor die reg van arm mense, 'n goddelose mens het nie begrip vir dié besorgdheid nie. Ligsinnige mense bring 'n stad in oproer; wyse mense kalmeer die gemoedere. Wanneer 'n wyse man 'n saak maak teen 'n dwaas, raak die dwaas opgewonde en beledigend, en kom daar nie vrede nie. Moordenaars haat 'n onskuldige mens; mense wat reg lewe, probeer sy lewe red. 'n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; 'n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer. 'n Regeerder wat hom aan leuens steur, het naderhand net goddeloses in sy diens. 'n Arm mens en sy verdrukker het een ding gemeenskaplik: die Here hou hulle altwee in die lewe. As 'n koning reg aan arm mense laat geskied, sal hy lank regeer.