SPREUKE 28:15-28

SPREUKE 28:15-28 AFR83

'n Brullende leeu, 'n beer wat wil rondstorm, so is 'n goddelose regeerder oor 'n weerlose volk. As 'n heerser verstandigheid kortkom, is daar baie verdrukking; wie uitbuiting haat, lewe lank. 'n Man wat moord op sy gewete het, moet op die vlug bly tot sy dood toe. Niemand moet hom help nie. Wie 'n eerbare lewe lei, sal hulp ontvang; wie 'n oneerlike lewe lei, sal onverwags tot 'n val kom. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet; wie hom besig hou met nuttelose dinge, word brandarm. 'n Betroubare man is baie voorspoedig; een wat gou ryk wil word, sal sy straf kry. Dit is nie reg dat mense partydig is en sondig nie, selfs nie ter wille van 'n stukkie kos nie. 'n Inhalige mens wil gou ryk word; hy besef nie dat daar vir hom gebrek wag nie. Wie iemand teregwys, kry eerder agterna dank as wat 'n vleier dit kry. Wie sy ouers besteel en sê: “Ek doen niks verkeerds nie,” is niks anders as 'n rower nie. 'n Gierige mens veroorsaak rusie; een wat op die Here vertrou, is voorspoedig. Wie op homself vertrou, is 'n dwaas; wie hom deur wysheid laat lei, is veilig. Wie vir 'n arm mens iets oor het, sal self niks kortkom nie, maar wie anderpad kyk, sal baie verwensings hoor. As goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg, as die goddeloses ondergaan, kry die regverdiges die mag.