SPREUKE 28:15-28

SPREUKE 28:15-28 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer iemand wat altyd verkeerd doen, regeer oor mense wat hulleself nie kan beskerm nie, dan is hy soos 'n leeu wat brul of soos 'n beer wat mense wil doodmaak. 'n Onverstandige koning verdruk sy mense, maar 'n koning wat dit haat om oneerlik te wees, sal lank regeer. Wanneer 'n persoon iemand vermoor het, dan sal hy moet aanhou vlug totdat hy ook sterf, en niemand moet hom help nie. Wanneer iemand eerlik lewe, dan sal hy veilig wees, maar wanneer hy oneerlik is, dan sal hy skielik val. Wanneer iemand in sy grond werk, dan sal hy genoeg hê om te eet. Wanneer hy dinge doen wat niks beteken nie, dan sal hy arm bly. Dit gaan baie goed met iemand wat altyd doen wat hy belowe, maar die Here sal die persoon straf wat gou ryk wil word. Dit is verkeerd om téén een persoon en vír 'n ander persoon te wees wanneer jy moet oordeel. 'n Mens moenie sonde doen nie, ook nie wanneer iemand vir jou met 'n stukkie kos wil betaal nie. 'n Suinige mens wil altyd meer hê, hy weet nie dat hy arm sal word nie. Wanneer iemand vir jou waarsku en sê hoe jy moet lewe, dan sal jy later vriendelik wees met hom, maar jy sal nie vriendelik wees met iemand wat net dinge sê om jou gelukkig te laat voel nie. Iemand wat sy ouers se goed steel en dan sê hy doen niks verkeerd nie, is 'n skelm en 'n dief. Iemand wat altyd meer wil hê, laat mense twis met mekaar. Die persoon wat in die Here glo, word ryk. Iemand wat dink net hy is reg, is 'n dwaas, iemand wat wysheid het, sal vry wegkom. Iemand wat van sy goed vir arm mense gee, sal nooit te min hê nie, maar wanneer iemand wegkyk en nie arm mense wil help nie, dan sal baie mense hom vervloek. Wanneer mense wat verkeerd doen, begin regeer, dan kruip die ander mense weg. Wanneer die mense wat verkeerd doen, sterf, dan word die mense wat reg lewe, baie.

SPREUKE 28:15-28 Die Boodskap (DB)

Soos ’n brullende leeu en ’n honger beer, so is ’n slegte leier wat hulpeloses en armes se regte vertrap. Hy maak hulle lewe net nog moeiliker. ’n Regeerder sonder insig in die regte manier van lewe, sal sy mag misbruik. Wie wanpraktyke haat, sal lank regeer. ’n Moordenaar wat onskuldige mense doodmaak, verdien geen genade nie. Tot sy dood toe sal hy van God verlate wees. Niemand moet hom probeer help nie. Iemand wat reg leef, is veilig in die hand van die Here. Wie verkeerde dinge doen se lewe is ’n nagmerrie. Wie hard werk, het genoeg om te eet. Wie rondstaan en niks doen nie, sal arm word. ’n Betroubare mens ervaar baie seëninge. Wie vinnig ryk wil word, verbrand sy vingers. Om kant te kies in enige saak is verkeerd. Al het jy dit hoe nodig, omkoopgeskenke is ’n gruwel. ’n Suinige en jaloerse mens sal alles doen om ryk te word. Op die ou einde het hy nog steeds niks nie. Wie die moed het om mense mooi op hulle foute te wys word meer gerespekteer as iemand wat hulle net heeltyd vlei. Wie sy ouers uitbuit en nie daaroor skuldig voel nie, is soos ’n dief wat vir niemand omgee nie. Iemand wat net aan homself dink en net homself verryk, maak mense woedend. Hulle wil niks met hom te doen hê nie. Wie op die Here vertrou, is ryk en voorspoedig. Iemand wat net op sy eie insigte vertrou, is dom. Wie die spreuke ernstig opneem, spaar homself baie ellende. Wie vir die armes omgee, sal nooit swaarkry nie. Wie blind is vir hulle ellende, sal self baie swaarkry. Wanneer ’n diktator aan bewind kom, maak goeie burgers hulle uit die voete. Wanneer ’n bose regering van die toneel verdwyn, kan gelowiges weer die mag oorneem.