Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad; moet jou nie ophou met suiplappe en vrate nie, want die suiplap en die vraat word arm; dronkenskap laat jou in vodde loop. Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie. Hou by die waarheid, moet daar nie van afstand doen nie; hou by wysheid, by selfbeheersing, by insig. 'n Vader van 'n kind wat reg doen, voel baie gelukkig; 'n wyse seun verskaf sy vader groot vreugde. Mag ook jóú vader dié vreugde hê, mag ook jóú moeder wat jou in die wêreld gebring het, so gelukkig wees! Glo my, my seun, en onthou wat ek jou leer: 'n slegte vrou is soos 'n gevaarlike afgrond, 'n ander man se vrou is soos 'n put waaruit jy nie kan kom nie; sy lê op die loer soos 'n rower, sy laat die een man na die ander 'n egbreker word. Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank. Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos 'n slang, spoeg hy gif soos 'n kobra. Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.
Lees SPREUKE 23
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: SPREUKE 23:19-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's