SPREUKE 23:19-35

SPREUKE 23:19-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My kind, luister na my, dat jy wys kan word. Hou jou hart op die regte koers. Jy moenie jou tyd verspil op suiplappe en vrate nie. Die dronklap en die vraat maak hulleself arm. Die roes van dronkenskap laat hulle in vodde loop. Luister na jou pa wat jou die lewe gegee het. Moenie jou ma afskryf omdat sy oud geword het nie. Verkry waarheid. Moet nooit daarvan afstand doen nie. Hou vas aan wysheid, selfbeheersing en insig. ’n Pa van ’n kind wat reg doen, het rede vir blydskap. ’n Wyse kind verskaf sy ouers groot vreugde. Laat daar rede wees vir jou pa en jou ma om oor jou bly te wees. Mag jou ma wat jou in die lewe gebring het, rede hê om oor jou te juig. My seun, maak jou hart vir my oop en volg my voorbeeld na. ’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil. ’n Verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie. Sy sit en wag vir haar prooi soos ’n rower. Sy soek na iemand om te oorreed tot ontrouheid aan sy vrou. Wie het kopseer en lyfseer? Wie maak rusie en kla? Wie het onnodige kneusplekke? Wie se oë is bloedbelope? Dis dié wat tot laat sit en drink en allerlei mengsels proe. Moenie dat jy verlei word deur die rooi glans van wyn, die vonkel in die beker, die gladde manier waarop dit in jou keel afloop nie. Nadat jy dit gedrink het, pik dit soos ’n slang, spoeg dit gif soos ’n kobra. Jy sien dan vreemde dinge en jou gedagtes is verward. Dit voel of jy rondsteier soos ’n matroos op see, of op ’n seilboot rondslinger. Jy redeneer by jouself: “Hulle het my geslaan en ek het nie seergekry nie! Ek weet nie eers dat hulle my geslaan het nie. Wanneer ek wakker word, sal ek iets gaan soek wat ek kan drink.”

SPREUKE 23:19-35 Bybel vir almal (ABA)

My seun, jy moet luister sodat jy wysheid kan kry en sodat jy kan weet hoe om reg te lewe. Jy moenie saam met mense wees wat te veel wyn drink en te veel vleis eet nie, want mense wat altyd dronk is en mense wat altyd te veel eet, word arm, en al hulle klere is stukkend. Jy moet luister na jou ouers, ook wanneer hulle oud is, jy moenie dink hulle is dan nie meer belangrik nie. Jy moet soek na waarheid, jy moet dit nie los nie, jy moet wysheid kry, jy moet leer en verstandig word. 'n Pa voel baie gelukkig en bly as hy 'n seun het wat reg lewe en wat wysheid het. Ek hoop jou ouers sal bly en gelukkig wees oor jou. My seun, jy moet verstaan wat ek vir jou sê, jy moet kyk hoe ek lewe en jy moet ook so lewe, want 'n prostituut, 'n slegte vrou, is soos 'n diep en nou gat waarin jy kan val. Sy lê en wag vir jou soos 'n dief, sy laat baie mans ontrou word. Wie is dit wat kla en sug, wie is dit wat twis? Wie is dit wat aanhou praat, wat seerkry maar hy weet dit nie? Wie het rooi oë? Dit is mense wat sit en drink tot dit laat is, mense wat aanhou proe aan drank. Jy moenie na die wyn kyk wanneer dit rooi is en blink in die beker nie, die wyn wat jy so lekker sluk. Wanneer jy die wyn klaar gedrink het, dan pik hy soos 'n slang en hy spoeg gif soos 'n kobra. Dan sien jy dinge wat jy nie ken nie en jy dink deurmekaar dinge. Dit voel of jy in die middel van die see lê, dit voel of jy op 'n seilskip se maspaal lê, en jy dink: Hulle het my geslaan, maar ek het nie seergekry nie, hulle het my gestamp, maar ek het dit nie geweet nie. Jy dink: Wanneer word ek wakker? Ek wil nog wyn gaan soek om te drink.

SPREUKE 23:19-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg. Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra. Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie. Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. Die vader van 'n regverdige juig baie; en as iemand 'n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het. My seun, gee my jou hart, en laat jou oë 'n welgevalle hê in my weë. Want 'n hoer is 'n diep kuil, en 'n ontugtige vrou is 'n nou put. Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom. By wie is „Ag!”; by wie is „Wee my!”; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk. Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!

SPREUKE 23:19-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad; moet jou nie ophou met suiplappe en vrate nie, want die suiplap en die vraat word arm; dronkenskap laat jou in vodde loop. Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie. Hou by die waarheid, moet daar nie van afstand doen nie; hou by wysheid, by selfbeheersing, by insig. 'n Vader van 'n kind wat reg doen, voel baie gelukkig; 'n wyse seun verskaf sy vader groot vreugde. Mag ook jóú vader dié vreugde hê, mag ook jóú moeder wat jou in die wêreld gebring het, so gelukkig wees! Glo my, my seun, en onthou wat ek jou leer: 'n slegte vrou is soos 'n gevaarlike afgrond, 'n ander man se vrou is soos 'n put waaruit jy nie kan kom nie; sy lê op die loer soos 'n rower, sy laat die een man na die ander 'n egbreker word. Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank. Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos 'n slang, spoeg hy gif soos 'n kobra. Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.

SPREUKE 23:19-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

As jy luister, my seun, sal jy wys word en sal jy jou hart op die regte pad lei. Moet jou nie met die wynvlieë ophou nie, met dié wat hulle aan vleis ooreet nie. Want 'n dronklap en 'n vraat sal verarm, en lomerigheid laat mens vodde dra. Luister na jou vader, hy wat jou verwek het; en moet jou moeder nie minag wanneer sy oud geword het nie. Verkry waarheid, en moet dit nie verkwansel nie, ook wysheid, vermaning en insig. Die vader van 'n regverdige jubel uitbundig; wie 'n wyse seun verwek, sal oor hom verheug wees. Mag jou vader en moeder blydskap ervaar; mag sy wat jou in die wêreld gebring het, jubel. Gee my jou hart, my seun, en laat jou oë vreugde vind in my paaie. want 'n prostituut is 'n diep vangkuil, en 'n vreemde vrou is 'n nou put. Ook sy lê 'n man voor soos 'n rower; sy maak die ontroues onder mense meer. By wie is daar smart? By wie is daar ellende? By wie is daar 'n gekyf? By wie is daar klagtes? By wie is daar onnodige wonde? By wie is daar bloedbelope oë? Dit is by hulle wat agterbly by die wyn, by hulle wat ingaan om gemengde wyn te bly proe. Moenie na wyn kyk wanneer dit rooi skyn, sy glans in die beker gee nie – dit vloei te glad af! Agterna pik dit soos 'n slang en spuit gif soos 'n kobra. Dan sien jou oë vreemde goed, en jou hart praat verdorwe dinge. Jy sal wees soos een wat lê op die oop see, soos een wat lê op die top van 'n skip se takelwerk. Jy sal dink: Hulle het my geslaan, maar ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my afgeransel, maar ek het niks gemerk nie. Wanneer word ek wakker? Ek wil dit weer gaan soek.

SPREUKE 23:19-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Luister, my seun, en word wys, en lei jou hart op die pad. Moenie onder wynsuipers wees nie; onder oproerige eters van vleis: Want die dronkaard en die vraat sal arm word, en lomerigheid sal 'n man met lappe beklee. Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud is nie. Koop die waarheid en verkoop dit nie; ook wysheid en tug en insig. Die vader van die regverdige sal baie bly wees, en hy wat 'n wyse kind verwek, sal oor hom bly wees. Jou vader en jou moeder sal bly wees, en sy wat jou gebaar het, sal bly wees. My seun, gee my jou hart, en laat jou oë my weë sien. Want 'n hoer is 'n diep sloot; en 'n vreemde vrou is 'n nou kuil. En sy lê en loer soos 'n buit en vermeerder die oortreders onder die mense. Wie het wee? wie het droefheid? wie het twis? wie het gebabbel? wie het wonde sonder oorsaak? wie het rooi van oë? Die wat lank aan die wyn vertoef; hulle wat gaan om gemengde wyn te soek. Kyk nie na die wyn as dit rooi is, as dit sy kleur gee in die beker, as dit regop beweeg nie. Op die laaste byt dit soos 'n slang en steek soos 'n adder. Jou oë sal vreemde vroue aanskou, en jou hart sal verkeerde dinge uitspreek. Ja, jy sal wees soos hy wat in die middel van die see lê, of soos hy wat op die top van 'n mas lê. Hulle het my geslaan, moet jy sê, en ek was nie siek nie; hulle het my geslaan, en ek het dit nie gevoel nie; wanneer sal ek wakker word? Ek sal dit weer soek.

SPREUKE 23:19-35 Die Boodskap (DB)

Luister goed na wyse raad. Tree reg op. Dink mooi hoe jy wil leef. Moenie jou oorgee aan drank nie. Voor jy weet waar jy is, is jy daaraan verslaaf. Moenie ’n vraat wees wat alles gulsig opslurp nie. ’n Suiplap en ’n vraat word gou arm. Stukkende klere is hulle voorland. Onthou die goeie waardes wat jy in jou ouerhuis geleer het. Moenie jou ouers se harte op hulle oudag breek nie. Hou vas aan die lewenswaarhede wat hulle jou geleer het. Streef na nog meer wysheid. Leer nog meer lewensvaardighede. Probeer nog beter verstaan hoe om reg te lewe. Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef. Vertrou op my goeie raad vir die lewe. Jy sal sien dit help. Pas op vir die los vrou. Sy kan jou lewe verwoes. ’n Ander man se vrou is soos ’n diep put waaruit niemand kom nie. ’n Prostituut is altyd op loer na nog ’n slagoffer. Nes ’n rower. Elke dag loop baie mans hulle met haar vas. Sy maak van hulle egbrekers. Kyk mooi na die mense om jou. Wie kerm? Wie het dronkverdriet? Wie stry met almal? Wie kla oor alles? Wie het ’n blouoog? Snyplekke aan sy lyf? En dit alles sonder rede. Wie se oë is rooi en moeg? Natuurlik die dronklappe s’n. Hulle wat net nie kan ophou drink nie. Hulle wat hulle drankies meng sodat die skop nog sterker is. Pas maar op vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ’n Mens slaan sommer maklik ’n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge. Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ’n slang wat jou pik. Soos die gif van ’n adder wat jou doodmaak. Dit voel soos ’n ontploffing in jou kop. Jy sien dinge wat nie bestaan nie. Jy praat die grootste klomp onsin. Jy sweef soos iemand wat in die middel van die see op ’n bootjie ronddobber. Jy is bang soos iemand wat op die rand van ’n hoë gebou probeer slaap. Drank maak jou ongevoelig. Mense sal jou skop, maar jy sal dit nie eens voel nie. Hulle sal jou slaan, maar jy sal dit nie eens weet nie. Al waaraan jy dink, is drank. Jy kan nie wag dat die drankwinkel oopmaak en jy weer kan begin drink nie.

SPREUKE 23:19-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My kind, luister na my, dat jy wys kan word. Hou jou hart op die regte koers. Jy moenie jou tyd verspil op suiplappe en vrate nie. Die dronklap en die vraat maak hulleself arm. Die roes van dronkenskap laat hulle in vodde loop. Luister na jou pa wat jou die lewe gegee het. Moenie jou ma afskryf omdat sy oud geword het nie. Verkry waarheid. Moet nooit daarvan afstand doen nie. Hou vas aan wysheid, selfbeheersing en insig. ’n Pa van ’n kind wat reg doen, het rede vir blydskap. ’n Wyse kind verskaf sy ouers groot vreugde. Laat daar rede wees vir jou pa en jou ma om oor jou bly te wees. Mag jou ma wat jou in die lewe gebring het, rede hê om oor jou te juig. My seun, maak jou hart vir my oop en volg my voorbeeld na. ’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil. ’n Verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie. Sy sit en wag vir haar prooi soos ’n rower. Sy soek na iemand om te oorreed tot ontrouheid aan sy vrou. Wie het kopseer en lyfseer? Wie maak rusie en kla? Wie het onnodige kneusplekke? Wie se oë is bloedbelope? Dis dié wat tot laat sit en drink en allerlei mengsels proe. Moenie dat jy verlei word deur die rooi glans van wyn, die vonkel in die beker, die gladde manier waarop dit in jou keel afloop nie. Nadat jy dit gedrink het, pik dit soos ’n slang, spoeg dit gif soos ’n kobra. Jy sien dan vreemde dinge en jou gedagtes is verward. Dit voel of jy rondsteier soos ’n matroos op see, of op ’n seilboot rondslinger. Jy redeneer by jouself: “Hulle het my geslaan en ek het nie seergekry nie! Ek weet nie eers dat hulle my geslaan het nie. Wanneer ek wakker word, sal ek iets gaan soek wat ek kan drink.”