Spreuke 23:19-35

Spreuke 23:19-35 ABA

My seun, jy moet luister sodat jy wysheid kan kry en sodat jy kan weet hoe om reg te lewe. Jy moenie saam met mense wees wat te veel wyn drink en te veel vleis eet nie, want mense wat altyd dronk is en mense wat altyd te veel eet, word arm, en al hulle klere is stukkend. Jy moet luister na jou ouers, ook wanneer hulle oud is, jy moenie dink hulle is dan nie meer belangrik nie. Jy moet soek na waarheid, jy moet dit nie los nie, jy moet wysheid kry, jy moet leer en verstandig word. 'n Pa voel baie gelukkig en bly as hy 'n seun het wat reg lewe en wat wysheid het. Ek hoop jou ouers sal bly en gelukkig wees oor jou. My seun, jy moet verstaan wat ek vir jou sê, jy moet kyk hoe ek lewe en jy moet ook so lewe, want 'n prostituut, 'n slegte vrou, is soos 'n diep en nou gat waarin jy kan val. Sy lê en wag vir jou soos 'n dief, sy laat baie mans ontrou word. Wie is dit wat kla en sug, wie is dit wat twis? Wie is dit wat aanhou praat, wat seerkry maar hy weet dit nie? Wie het rooi oë? Dit is mense wat sit en drink tot dit laat is, mense wat aanhou proe aan drank. Jy moenie na die wyn kyk wanneer dit rooi is en blink in die beker nie, die wyn wat jy so lekker sluk. Wanneer jy die wyn klaar gedrink het, dan pik hy soos 'n slang en hy spoeg gif soos 'n kobra. Dan sien jy dinge wat jy nie ken nie en jy dink deurmekaar dinge. Dit voel of jy in die middel van die see lê, dit voel of jy op 'n seilskip se maspaal lê, en jy dink: Hulle het my geslaan, maar ek het nie seergekry nie, hulle het my gestamp, maar ek het dit nie geweet nie. Jy dink: Wanneer word ek wakker? Ek wil nog wyn gaan soek om te drink.