SPREUKE 23:1-18

SPREUKE 23:1-18 AFR83

As jy aansit om saam met 'n hoë amptenaar te eet, wees tevrede met wat jou voorgesit word en bedwing jou as jy 'n groot eetlus het. Moenie sy lekker kos begeer nie; dit kan jou duur te staan kom. Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie. Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg; dit kry vlerke en vlieg die lug in soos 'n arend. Moenie by 'n suinige mens gaan eet nie, moenie sy lekker kos begeer nie, want hy bly uitreken hoeveel dit hom kos. Dit is hoe hy is. Hy moedig jou aan om te eet en te drink, maar hy bedoel dit nie. Jy sal naar word van wat jy eet en jou komplimente sal verkwis wees. Moenie 'n dwaas probeer reghelp nie; hy sal jou verstandige raad met minagting behandel. Moenie grense verlê wat lankal daar is nie, moenie weeskinders se grond vat nie, want hulle Beskermer is magtig, Hy sal hulle saak teen jou behartig. Gee aandag aan wat ek jou voorskryf, luister goed na wat ek jou leer. Moenie huiwer om 'n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe. Jy moet hom juis slaan om hom van die dood te red. My seun, as jy 'n wyse mens word, sal dit my baie vreugde verskaf. Ek sal juig as wat jy sê, altyd reg is. Moenie afgunstig wees op sondaars nie; wees altyd ywerig om die Here te dien; dan sal jy 'n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.