Spreuke 23:1-18

Spreuke 23:1-18 AFR20

Wanneer jy gaan sit om saam met 'n heerser te eet, wees besonder bedag op wie voor jou is. Sit 'n mes teen jou keel as jy 'n groot eetlus het. Moenie sy lekkernye begeer nie, want dit is misleidende kos. Moet jou nie afsloof om ryk te word nie, jy behoort van beter te weet – hou op daarmee! Sou jy jou oë net daarop rig? Dit is reeds weg! Want dit kry beslis vlerke; soos 'n arend vlieg dit weg in die lug. Moenie die brood van 'n gierigaard eet nie, en moenie sy lekkernye begeer nie. Want in sy binneste maak hy somme; dit is hoe hy is. “Eet en drink!” sê hy vir jou, maar sy hart is nie by jou nie. Jou krieseltjie wat jy geëet het – jy gaan dit opgooi, en jou aangename woorde het jy dan verspil. Moenie direk met 'n dwaas praat nie, want jou verstandige woorde sal hy met minagting bejeën. Moenie ou grense verskuif nie, en in die landerye van vaderloses moet jy nie kom nie. Want hulle losser is sterk; Hy sal hulle regstryd teen jou voer. Rig jou hart op vermaning, en jou oor op woorde van wysheid. Moenie straf van 'n jong seun weerhou nie; as jy hom met 'n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie. Jy slaan hom wel met 'n lat, maar jy red sy lewe van die •doderyk. My seun, as jou hart wys is, is ook my hart verheug. My binneste sal jubel wanneer jou lippe praat wat reg is. Jou hart moet nie opgewonde raak oor sondaars nie, maar wees die hele tyd opgewonde oor ontsag vir die HERE. Daar is beslis 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.