SPREUKE 12:1-14

SPREUKE 12:1-14 AFR83

Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang; wie hom nie laat teregwys nie, is 'n dom mens. Die Here hou van 'n goeie mens, maar Hy veroordeel 'n slinkse mens. Niemand wat 'n verkeerde lewe lei, hou stand nie; wie die wil van die Here doen, staan stewig. 'n Knap vrou gee haar man hoë aansien; een wat haar man in die skande steek, is vir hom soos vretende kanker. Die mening van regverdiges kan die toets van die reg deurstaan; die slim raad van goddeloses is onbetroubaar. Goddeloses stel met wat hulle sê, dodelike hinderlae vir ander; opregte mense red ander met wat hulle sê. Goddeloses val en dit is klaar met hulle; die nageslag van die regverdiges bestaan voort. 'n Mens word geprys vir sy insig en uitgelag as hy nie verstandig dink nie. Liewer gering geag word en tog 'n slaaf besit as jou vernaam aanstel en nie kos hê om te eet nie. Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet; wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie. Die goddelose soek sy veiligheid in verkeerde dade; die regverdiges staan vanself vas. 'n Slegte mens stel vir homself 'n strik met sy opruiende woorde; wie reg doen, ontkom uit die nood. 'n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik, of hy kan die vrug geniet van wat hy met sy hande doen.