SPREUKE 12:1-14
SPREUKE 12:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Iemand wat daarvan hou dat mense vir hom leer, wil graag dinge weet, iemand wat nie daarvan hou dat mense vir hom sê hoe hy moet lewe nie, is dom. Die Here is goed vir 'n goeie mens, maar Hy straf mense wat skelm planne het. 'n Mens wat verkeerd doen, sal nie aanhou lewe nie, maar die mense wat reg lewe, sal vas bly staan en veilig wees. Mense respekteer 'n man wat 'n goeie vrou het, maar wanneer 'n man skaam moet wees vir sy vrou, dan is sy soos kanker in sy liggaam. Mense wat reg lewe, dink reg, die planne van mense wat verkeerd doen, help niks. Wanneer die mense wat verkeerd doen, praat, dan wil hulle ander mense laat sterf, eerlike mense se woorde red hulle. Wanneer die mense wat verkeerd doen, sterf, dan is hulle weg, maar die nageslag van mense wat reg lewe, sal altyd daar wees. Mense prys iemand wat verstandig praat, maar hulle spot iemand wat dom dinge sê. Dit is beter om nie belangrik te wees nie en 'n slaaf te hê, as om baie belangrik te wees en nie kos te hê om te eet nie. 'n Mens wat reg lewe, weet wat sy diere nodig het, maar mense wat verkeerd doen, is wreed, ook wanneer hulle probeer om goed te wees. Wanneer iemand in sy grond werk, dan sal hy genoeg hê om te eet, 'n onverstandige mens doen dinge wat vir hom niks help nie. 'n Mens wat verkeerd doen, dink hy sal veilig wees wanneer hy slegte dinge doen, mense wat reg lewe, is veilig. Die verkeerde dinge wat 'n slegte mens sê, is soos 'n vangstrik wat hom vang, maar wanneer 'n mens reg lewe, dan sal dit nie vir hom gevaarlik wees nie. Wanneer 'n mens die regte dinge sê, dan sal dit baie goed gaan met hom, en wanneer hy met sy hande werk, dan sal hy beloning kry.
SPREUKE 12:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EEN wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom. Die goeie verkry 'n welbehae van die HERE, maar Hy veroordeel 'n slinkse man. Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie. 'n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos 'n verrotting in sy gebeente. Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog. Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed, maar die mond van die opregtes red hulle. Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie; maar die huis van die regverdiges bly staan. Ooreenkomstig sy insig word 'n man geprys; maar 'n verkeerde van hart sal verag word. Wie gering geag word en 'n slaaf het, is beter as hy wat hom vernaam aanstel en gebrek aan brood het. Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed. Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand. Die goddelose begeer die vangs van verkeerde dinge, maar die wortel van die regverdiges lewer vrugte op. In die oortreding van die lippe lê daar 'n gevaarlike strik; maar die regverdige ontkom aan die benoudheid. Uit die vrug van iemand se mond word hy versadig met die goeie, en die daad van 'n mens se hande kom op hom terug.
SPREUKE 12:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang; wie hom nie laat teregwys nie, is 'n dom mens. Die Here hou van 'n goeie mens, maar Hy veroordeel 'n slinkse mens. Niemand wat 'n verkeerde lewe lei, hou stand nie; wie die wil van die Here doen, staan stewig. 'n Knap vrou gee haar man hoë aansien; een wat haar man in die skande steek, is vir hom soos vretende kanker. Die mening van regverdiges kan die toets van die reg deurstaan; die slim raad van goddeloses is onbetroubaar. Goddeloses stel met wat hulle sê, dodelike hinderlae vir ander; opregte mense red ander met wat hulle sê. Goddeloses val en dit is klaar met hulle; die nageslag van die regverdiges bestaan voort. 'n Mens word geprys vir sy insig en uitgelag as hy nie verstandig dink nie. Liewer gering geag word en tog 'n slaaf besit as jou vernaam aanstel en nie kos hê om te eet nie. Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet; wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie. Die goddelose soek sy veiligheid in verkeerde dade; die regverdiges staan vanself vas. 'n Slegte mens stel vir homself 'n strik met sy opruiende woorde; wie reg doen, ontkom uit die nood. 'n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik, of hy kan die vrug geniet van wat hy met sy hande doen.
SPREUKE 12:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie vermaning liefhet, het kennis lief, maar wie teregwysing haat, is dom. 'n Goeie mens geniet die HERE se goedkeuring, maar iemand met slinkse planne veroordeel Hy. 'n Mens kan nie bestendig wees deur goddeloosheid nie, en die wortel van regverdiges kan nie losgeskud word nie. 'n Knap vrou is 'n kroon vir haar man, maar soos verrotting in sy gebeente is 'n vrou wat skande maak. Die planne van regverdiges is reg, maar die leiding van goddeloses is bedrieglik. Die woorde van goddeloses is 'n hinderlaag tot bloedvergieting, maar die monde van opregtes red hulle. Goddeloses word omvergewerp en is nie meer daar nie, maar die huis van regverdiges bly staan. Ooreenkomstig sy skranderheid word 'n man geprys, maar iemand met 'n verwarde hart is uitgelewer aan veragting. Wie gering geag word, maar tog 'n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar 'n gebrek aan brood het. 'n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood, maar wie nietighede najaag, is sonder verstand. 'n Goddelose vind vreugde in 'n vangnet van booshede, maar die wortel van regverdiges is goed gevestig. In 'n oortreding met die lippe lê die valstrik vir 'n bose mens, maar 'n regverdige ontkom aan benoudheid. Uit die vrug van iemand se mond word hy met die goeie versadig, en die werk van 'n mens se hande vergoed hom.
SPREUKE 12:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie tug liefhet, het kennis lief, maar hy wat teregwysing haat, is brutaal. 'n Goeie man verkry guns van die HERE, maar 'n man van slegte planne sal hy veroordeel. 'n Mens sal nie deur goddeloosheid bevestig word nie, maar die wortel van die regverdige sal nie wankel nie. 'n Deugsame vrou is 'n kroon vir haar man, maar sy wat haar skaam, is soos verrotting in sy gebeente. Die gedagtes van die regverdiges is reg, maar die raad van die goddelose is bedrog. Die woorde van die goddelose is om bloed te loer, maar die mond van die opregtes sal hulle red. Die goddelose word omvergewerp en is nie, maar die huis van die regverdiges sal bestaan. 'n Man sal geprys word volgens sy wysheid, maar hy wat 'n verkeerde hart het, sal verag word. Hy wat verag is en 'n dienskneg het, is beter as hy wat homself eer en brood kortkom. 'n Regverdige man let op die lewe van sy dier, maar die barmhartighede van die goddelose is wreed. Hy wat sy land bewerk, sal versadig word van brood; Die goddelose begeer die net van die bose mense, maar die wortel van die regverdige dra vrugte. Die goddelose word verstrik deur die oortreding van sy lippe, maar die regverdige kom uit benoudheid. 'n Mens sal versadig word van die goeie deur die vrug van sy mond, en die vergelding van 'n mens se hande sal aan hom vergeld word.
SPREUKE 12:1-14 Die Boodskap (DB)
Wie die lesse van die lewe ernstig opneem, is slim. Wie uit sy foute leer, leer die kuns van die lewe ken. Wie na geen raad luister nie, is dom. Die Here hou baie van mense wat graag wil leer, van mense wat die regte dinge op die regte oomblik doen en sê. Maar hulle wat heeltyd slegte dinge dink, verwerp Hy. Niemand kry iets reg uit slegte dade nie. Slegte dinge maak van jou ’n ongelukkige mens. Die gelowiges staan vas. Hulle is gelukkige mense. ’n Goeie vrou beteken vir ’n man verskriklik baie. Sy versier sy lewe soos ’n mooi kledingstuk. Iemand wie se vrou ’n skandemaker is, se lewe is nag. Sy is soos ’n ongeneeslike siekte. Gelowiges dink heeltyd hoe om reg te lewe. Ongelowiges se raad is baie gevaarlik. Goddelose mense se woorde probeer jou in ’n lokval lei. Dit wil jou seermaak. Maar gelowiges se insig in die lewe bevry jou van al hierdie strikke. Ongelowiges gaan dood en dit is verby met hulle. Maar ’n gelowige se lewe het groot betekenis. ’n Mens word aan sy manier van lewe gemeet. Slimheid word aan ’n mooi manier van lewe gesien. Domkoppe weet nie hoe om reg te leef nie. Mense verag hulle. Dis beter om eenvoudig te leef as om vrot van die skuld te wees. Dis beter om ’n meer beskeie huis te hê as ’n ryk lewenstyl en heeltyd honger te wees. ’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf. Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel. ’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie. ’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies. ’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens.
SPREUKE 12:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Iemand wat bereid is om reggehelp te word, leer graag. Dit is dom as iemand hom nie wil laat teregwys nie. Die HERE hou van ’n mens wat goeddoen. Hy het nie tyd vir ’n slinkse mens nie. Iemand wat verkeerd lewe, het nie vastigheid nie. Iemand wat regverdig lewe, is stewig geanker. ’n Goeie vrou is haar man se trots. Een wat skande maak, is soos kanker in sy bene. Die planne van die regverdiges is reg. Die raad van goddeloses is vol bedrog. Wat goddelose mense sê, is ’n lokval vir ander. Opregte mense se woorde red hulleself. Goddeloses kom tot ’n val en dit is verby met hulle. Die nageslag van regverdiges bly voortbestaan. Mense bewonder iemand wat verstandige dinge sê. Hulle verag iemand wat verdraaide idees het. Dit is beter om onbelangrik te wees en ’n slaaf te hê, as om vol van jouself te wees en nie eers kos te hê om te eet nie. Die regverdige gee om vir sy diere, maar ’n goddelose mens is altyd baie wreed met hulle. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie. Die goddelose soek veiligheid in verkeerde dade. Die regverdiges is goed gevestig. ’n Slegte mens se woorde is ’n strik vir homself. Iemand wat reg lewe, ontduik moeilikheid. Met jou woorde kan jy baie goeie dinge kry. Die werk van jou hande gee jou ook baie voorregte.