FILIPPENSE 2:19-30

FILIPPENSE 2:19-30 AFR83

Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos 'n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop. En ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook gou na julle toe sal kan kom. Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. Ontvang hom met oop arms as 'n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.