Filippense 2:19-30

Filippense 2:19-30 AFR20

Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan word wanneer ek julle omstandighede leer ken het. Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie. Almal soek net hulle eie belang, nie dié van Jesus •Christus nie. Julle weet hoe Timoteus homself bewys het, hoe hy soos 'n kind teenoor sy vader, saam met my die evangelie bedien het. Ek hoop dus om hom te stuur, so gou as wat ek weet wat my omstandighede gaan wees. Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou sal kom. Ek ag dit noodsaaklik om Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder en julle gesant, my helper in nood, na julle te stuur. Hy het immers gedurig na julle almal verlang en was baie ontsteld omdat julle gehoor het dat hy siek geword het. Hy was werklik tot die dood toe siek, maar God het Hom ontferm, nie net oor hom nie, maar ook oor my, sodat ek nie een verdriet ná die ander sou ervaar nie. Daarom stuur ek hom nog dringender terug, sodat julle hom kan sien en weer bly kan wees, en ek minder bekommerd. Ontvang hom dan in die Here met groot blydskap, en respekteer mense soos hy, want deur sy werk vir Christus het hy na aan die dood gekom: Hy het sy lewe gewaag om, waar julle hulp aan my tekort geskiet het, dit aan te vul.