NUMERI 7:12-89

NUMERI 7:12-89 AFR83

Op die eerste dag het Nagson, seun van Amminadab uit die stam Juda, sy offergawe gebring; op die tweede dag Netanel, seun van Suar leier van Issaskar; op die derde dag Eliab, seun van Gelon leier van Sebulon; op die vierde dag Elisur, seun van Sedeür leier van Ruben; op die vyfde dag Selumiël, seun van Suri-Saddai leier van Simeon; op die sesde dag Eljasaf, seun van Reüel leier van Gad; op die sewende dag Elisama, seun van Ammihud leier van Efraim; op die agste dag Gamliël, seun van Pedasur leier van Manasse; op die negende dag Abidan, seun van Gidoni leier van Benjamin; op die tiende dag Agiëser, seun van Ammi-Saddai leier van Dan; op die elfde dag Pagiël, seun van Okran leier van Aser, en op die twaalfde dag Agira, seun van Enan leier van Naftali. Elke leier het die volgende offergawes gebring: een silwerskottel met 'n gewig van een en 'n half kilogram, een silwerkom van ag honderd gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue pannetjie van honderd en vyftien gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as maaltydoffers. Die offergawes wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme en twaalf goue pannetjies. Elke skottel het een en 'n half kilogram geweeg en elke kom ag honderd gram. Die silwer van al die gereedskap het ag en twintig kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen honderd en vyftien gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Al die goud van die pannetjies was byna een en 'n half kilogram. Daar was twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer saam met hulle graanoffers en twaalf bokramme as sondeoffer. Al die vee vir die maaltydoffers was vier en twintig bulle, sestig ramme, sestig bokramme en sestig jaaroud lammers. Dit was die offergawes vir die inwyding van die altaar nadat dit gesalf is. Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

Video for NUMERI 7:83-89