NUMERI 7:83-89

NUMERI 7:12-89 Bybel vir almal (ABA)

Elke leier het sy presente op een van die twaalf dae gebring. Die leiers was: Nagson seun van Amminadab van die stam Juda, Netanel seun van Suar, leier van die stam Issaskar, Eliab seun van Gelon, leier van die stam Sebulon, Elisur seun van Sedeür, leier van die stam Ruben, Selumiël seun van Suri-Saddai, leier van die stam Simeon, Eljasaf seun van Reüel, leier van die stam Gad, Elisama seun van Ammihud, leier van die stam Efraim, Gamliël seun van Pedasur, leier van die stam Manasse, Abidan seun van Gidoni, leier van die stam Benjamin, Agiëser seun van Ammi-Saddai, leier van die stam Dan, Pagiël seun van Okran, leier van die stam Aser, en Agira seun van Enan, leier van die stam Naftali. Die presente wat elke leier gebring het, was: 'n silwer skottel wat 130 sikkels geweeg het, 'n silwer bak wat 70 sikkels geweeg het, dit was tempel-sikkels, die skottel en die bak was altwee vol van die beste meel, hulle het dit met olyf-olie gemeng, dit was 'n koring-offer, 'n goue bakkie wat tien sikkels geweeg het en vol wierook was, 'n bul, 'n skaap-ram en 'n lam wat een jaar oud was, dit was die brand-offer, 'n bok-ram, dit was die sonde-offer, en twee beeste, vyf skaap-ramme, vyf bok-ramme en vyf lammers wat een jaar oud was, dit was die ete-offer. Dit was die presente van elke leier. Die leiers van die Israeliete het die presente gegee om die altaar te wy nadat Moses die altaar gesalf het. Die presente was almal saam twaalf silwer skottels, twaalf silwer bakke en twaalf goue bakkies. Elke skottel het 130 sikkels geweeg en elke silwer bak 70 sikkels. Al die silwergoed saam het 2 400 sikkels geweeg, dit was tempel-sikkels. Die twaalf goue bakkies wat vol wierook was, het elkeen 10 sikkels geweeg, dit was tempel-sikkels. Al die goue bakkies saam het 120 sikkels geweeg. Die leiers het ook diere gegee, dit was die brand-offer. Die diere was almal saam twaalf bulle, twaalf skaap-ramme en twaalf jaaroud lammers. Hulle het die diere gegee saam met die koring-offers. Daar was ook twaalf bok-ramme, dit was die sonde-offer. Die diere wat die leiers vir die ete-offer gegee het, was almal saam 24 bulle, 60 skaap-ramme, 60 bok-ramme en 60 jaaroud lammers. Dit was die offers om die altaar te wy nadat Moses die altaar gesalf het. Wanneer Moses met die Here wou praat, dan het hy ingegaan in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het en het hy gehoor die Here praat met hom van bokant die deksel wat op die kis was waarin die tien gebooie is. Die Here het met hom gepraat van tussen die twee gerubs.

NUMERI 7:12-89 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op die eerste dag het Nagson, seun van Amminadab uit die stam Juda, sy offergawe gebring; op die tweede dag Netanel, seun van Suar leier van Issaskar; op die derde dag Eliab, seun van Gelon leier van Sebulon; op die vierde dag Elisur, seun van Sedeür leier van Ruben; op die vyfde dag Selumiël, seun van Suri-Saddai leier van Simeon; op die sesde dag Eljasaf, seun van Reüel leier van Gad; op die sewende dag Elisama, seun van Ammihud leier van Efraim; op die agste dag Gamliël, seun van Pedasur leier van Manasse; op die negende dag Abidan, seun van Gidoni leier van Benjamin; op die tiende dag Agiëser, seun van Ammi-Saddai leier van Dan; op die elfde dag Pagiël, seun van Okran leier van Aser, en op die twaalfde dag Agira, seun van Enan leier van Naftali. Elke leier het die volgende offergawes gebring: een silwerskottel met 'n gewig van een en 'n half kilogram, een silwerkom van ag honderd gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue pannetjie van honderd en vyftien gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as maaltydoffers. Die offergawes wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme en twaalf goue pannetjies. Elke skottel het een en 'n half kilogram geweeg en elke kom ag honderd gram. Die silwer van al die gereedskap het ag en twintig kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen honderd en vyftien gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Al die goud van die pannetjies was byna een en 'n half kilogram. Daar was twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer saam met hulle graanoffers en twaalf bokramme as sondeoffer. Al die vee vir die maaltydoffers was vier en twintig bulle, sestig ramme, sestig bokramme en sestig jaaroud lammers. Dit was die offergawes vir die inwyding van die altaar nadat dit gesalf is. Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

NUMERI 7:12-89 Die Boodskap (DB)

Op die eerste dag het Amminadab se seun Nagson, uit die stam Juda, sy offer gebring; op die tweede dag Suar, die leier van Issaskar se seun Netanel; op die derde dag Gelon, die leier van Sebulon se seun Eliab; op die vierde dag Sedeür, die leier van Ruben se seun Elisur; op die vyfde dag Suri-Saddai, die leier van Simeon se seun Selumiël; op die sesde dag Reüel, die leier van Gad se seun Eljasaf; op die sewende dag Ammihud, die leier van Efraim se seun Elisama; op die agste dag Pedasur, die leier van Manasse se seun Gamliël; op die negende dag Gidoni, die leier van Benjamin se seun Abidan; op die tiende dag Ammi-Saddai, die leier van Dan se seun Agiëser; op die elfde dag Okran, die leier van Aser se seun Pagiël, en op die twaalfde dag Enan, die leier van Naftali se seun Agira. Elke leier het presies dieselfde offers gebring: een silwerskottel wat een en ’n half kilogram geweeg het, een silwerbak van 800 gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom waar God gedien word en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue wierookpannetjie van 115 gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as eteoffers. Die offers wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerbakke en twaalf goue wierookpannetjies. Elke skottel het een en ’n half kilogram geweeg en elke bak 800 gram. Die silwergereedskap het altesaam 28 kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen 115 gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die gewig van al die goue wierookpannetjies was omtrent een en ’n half kilogram. Wat die diere betref, was daar twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer, saam met hulle graanoffers, en twaalf bokramme as sondeoffer. Die totaal van al die diere wat vir die maaltydoffers gebring is tydens die inwyding van die altaar was: 24 bulle, 60 ramme, 60 bokramme en 60 jaaroud lammers. Elke keer as Moses in die tent ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here gehoor wat met hom praat. Die stem het van die deksel gekom wat bo-op die ark was, daar tussen die figure van die twee gerubs uit. Op hierdie manier het die Here met Moses gepraat.