NUMERI 33:40-56

NUMERI 33:40-56 AFR83

Die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Suidland van Kanaän gewoon het, het gehoor dat die Israeliete aan die kom is. Die Israeliete het Horberg verlaat en by Salmona kamp opgeslaan. Hulle het Salmona verlaat en by Punon kamp opgeslaan. Hulle het Punon verlaat en by Obot kamp opgeslaan. Hulle het Obot verlaat en by Ije-Abarim aan die grens van Moab kamp opgeslaan. Hulle het Ije-Abarim verlaat en by Dibon-Gad kamp opgeslaan. Hulle het Dibon-Gad verlaat en by Almon-Diblatajim kamp opgeslaan. Hulle het Almon-Diblatajim verlaat en in die Abarimberge regoor Nebo kamp opgeslaan. Hulle het die Abarimberge verlaat en in die Moabsvlakte aan die Jordaan regoor Jerigo kamp opgeslaan. Daar in die Moabsvlakte aan die Jordaan, tussen Bet-Jesimot en Abel-Sittim, het hulle kamp opgeslaan. In die Moabsvlakte aan die Jordaan regoor Jerigo het die Here vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: As julle die Jordaan na Kanaän toe oorsteek, moet julle al die inwoners van dié land verdrywe. Vernietig al die afgodsbeelde wat hulle vir hulle uitgesny en gegiet het, en verwoes al hulle hoogtes. Neem die land in besit en gaan woon daar, want Ek gee die land aan julle as besitting. Verdeel die land deur loting volgens julle stamme. Gee meer grond aan 'n groter groep, en minder aan 'n kleiner groep. Elkeen kry sy deel waar die lot dit aanwys. Elke stam moet sy eie grond hê. As julle nie al die inwoners van die land verdryf nie, sal dié van hulle wat oorbly, soos splinters in julle oë en soos dorings in julle sye wees. Hulle sal teen julle oorlog maak oor die land waarin julle woon, en dan sal Ek aan júlle doen wat Ek aan húlle wou doen!”