Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.
Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
Daar het toe 'n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar 'n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.
Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan.
Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?”
“Elia kom wel eers om alles weer reg te maak,” antwoord Hy hulle. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word. Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom, en die mense het met hom gemaak wat hulle wou, net soos daar oor hom geskrywe staan.”
Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle 'n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”
Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van 'n gees besete is wat hom stom maak. En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”
Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”
Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”
“Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”
“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”
“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”
Toe Jesus sien dat 'n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”
Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”
Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.
Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”
Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”