Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander. Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie. Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat. Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.” Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik. Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.” Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.
Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.” Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken.
Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?”
Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word? Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.”
Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer.
Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet. Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?”
Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.”
Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.”
Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?”
“Van kleins af,” was sy antwoord. “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”
“As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”
“Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”
Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.”
Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!” Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan.
Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?”
Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”