MARKUS 9:2-29
MARKUS 9:2-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ses dae later neem Jesus vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam en lei hulle teen 'n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. Hy het toe voor hulle van gedaante verander. Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie. Toe het Elia saam met Moses aan hulle verskyn, en hulle was besig om met Jesus te praat. Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het immers nie geweet wat hy moet sê nie, want hulle was totaal verskrik. Daar kom toe 'n wolk wat 'n skaduwee oor hulle gooi, en uit die wolk kom daar 'n stem: “Dit is my Seun, my geliefde, luister na Hom! ” Toe hulle rondkyk, sien hulle skielik niemand behalwe net Jesus by hulle nie. Terwyl hulle die berg afgaan, het Jesus hulle beveel om niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het dié saak vir hulleself gehou, terwyl hulle onderling bespiegel het wat “uit die dood opstaan” beteken. Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifkenners dat Elia eers moet kom?” Hy het hulle geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles te herstel. En waarom staan daar dan geskryf oor die Seun van die Mens dat Hy baie moet ly en verag word? Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom en hulle het aan hom gedoen wat hulle wou, soos daar oor hom geskryf staan.” Toe hulle by die dissipels kom, sien hulle 'n groot skare rondom hulle, en skrifkenners wat met hulle redeneer. Die hele skare was dadelik verras toe hulle Jesus sien, en het nader gehardloop en Hom gegroet. Hy het hulle gevra: “Waaroor redeneer julle met hulle?” Een uit die skare het Hom geantwoord: “Meester, ek het my seun na U gebring; hy het 'n gees in hom wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom neer. Die seun kry dan skuim om sy mond, kners op sy tande en kry stuiptrekkings. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Hy hulle: “O, ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Hulle het die seun na Hom gebring. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun dadelik stuiptrekkings kry. Hy het op die grond geval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus het die vader gevra: “Hoe lank gebeur dit al met hom?” Hy het geantwoord: “Van kleins af. Baie keer het die gees hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” Jesus vra hom toe: “ ‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo. ” Onmiddellik roep die vader van die kind uit: “Ek glo! Kom my ongeloof te hulp! ” Toe Jesus sien dat 'n skare saamdrom, het Hy die •onrein gees bestraf en vir hom gesê: “Stom en dowe gees, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom inkom nie!” Die gees het toe geskreeu en die seun baie stuiptrekkings laat kry en uit hom uitgegaan. Die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie mense gesê het: “Hy het gesterf.” Jesus het egter sy hand gevat, hom regop gehelp, en hy het opgestaan. Nadat Jesus 'n huis binnegegaan het, en hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons dan die gees nie uitdryf nie?” Hy het vir hulle gesê: “Hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie.”
MARKUS 9:2-29 Bybel vir almal (ABA)
Ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem tot op 'n hoë berg. Daar was nie ander mense by hulle nie. Daar by hulle het Jesus toe skielik begin anders lyk. Sy klere het blink en baie wit geword. Niemand op die aarde kon dit witter maak nie. Elia en Moses het aan hulle verskyn en hulle het met Jesus gestaan en praat. Petrus sê toe vir Jesus: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente maak, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus het nie geweet wat hy moet sê nie, want hy en die ander twee dissipels was baie bang. Daar het toe 'n wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “ Dit is my Seun, Ek is lief vir Hom. Julle moet doen wat Hy sê.” Die drie dissipels het dadelik rondgekyk, maar hulle het net vir Jesus gesien, niemand anders nie. Jesus en sy dissipels het afgekom van die berg, en Jesus het vir hulle gesê hulle moet vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Hulle kon dit vertel nadat Hy, die Seun van die mens, weer begin lewe het. Die dissipels was gehoorsaam, maar hulle het met mekaar gepraat en gevra wat dit beteken om weer te begin lewe. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes Elia moet kom voordat die Messias kom?” Jesus het vir hulle gesê: “ Elia moet eers kom om alles gereed te maak. Maar hoekom het die profete geskryf dat Ek, die Seun van die mens, baie swaar moet kry en dat die mense slegte dinge sal doen aan My? Ek sê vir julle: Elia het al klaar gekom, en die mense het met hom alles gedoen wat hulle wou doen. Dit het gebeur soos die profete oor hom geskryf het.” Daarna het Jesus en die drie dissipels teruggegaan na die ander dissipels toe. Hulle het gesien daar is 'n groot klomp mense rondom die ander dissipels. Die skrifgeleerdes was besig om met die dissipels te stry. Toe die mense vir Jesus sien, was hulle baie verbaas. Hulle het na Hom toe gehardloop en hulle het Hom gegroet. Jesus het vir die skrifgeleerdes gevra: “Hoekom stry julle met my dissipels?” Een van die mense het vir Jesus geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring, want daar is 'n onrein gees in hom wat hom stom maak. Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.” Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond. Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?” Die pa het gesê: “Vandat hy klein was. Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Jesus het vir hom gevra: “Hoekom sê jy ‘As U kan?’ Iemand wat glo, kan enige iets doen.” Die seun se pa het dadelik hard gesê: “Ek volg U nog nie, maar ek glo, help my asseblief.” Toe Jesus sien dat 'n groot klomp mense na hulle toe hardloop, het Hy hard met die onrein gees gepraat en vir hom gesê: “Jy is 'n gees wat mense stom en doof maak. Ek sê vir jou: Gaan uit die seun uit! Jy moet nooit weer in hom inkom nie!” Die gees het hard geskree en hy het die seun nog meer laat ruk en skop. Toe het hy uit die seun uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, en baie van die mense het gesê hy is dood. Jesus het sy hand geneem en hom opgehelp, en die seun het opgestaan. Jesus het huis toe gegaan, en toe sy dissipels alleen by Hom was, het hulle vir Hom gesê: “Ons kon nie die onrein gees uitjaag nie. Hoekom nie?” Jesus het hulle geantwoord: “'n Mens kan hierdie soort onrein gees net uitjaag as jy tot God bid.”
MARKUS 9:2-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op 'n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie. En daar het aan hulle verskyn Elía saam met Moses, en hulle was in gesprek met Jesus. Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elía een. Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik. En daar kom 'n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom 'n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom! En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus alleen. En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan. En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word? Maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is. EN toe Hy by die dissipels kom, sien Hy 'n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis. En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet. Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle? En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie. Toe antwoord Hy hom en sê: O Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe. En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond. Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af; en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! En toe Jesus sien dat 'n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie. En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie gesê het: Hy is dood. Maar Jesus het hom by die hand gegryp en hom opgerig; en hy het opgestaan. En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie? En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.
MARKUS 9:2-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat. Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander. Daar het toe 'n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar 'n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle. Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan. Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?” “Elia kom wel eers om alles weer reg te maak,” antwoord Hy hulle. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word. Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom, en die mense het met hom gemaak wat hulle wou, net soos daar oor hom geskrywe staan.” Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle 'n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?” Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van 'n gees besete is wat hom stom maak. En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.” Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?” “Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” Toe Jesus sien dat 'n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!” Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.” Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan. Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?” Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”
MARKUS 9:2-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná ses dae het Jesus Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem en hulle alleen op 'n hoë berg gelei, en Hy het voor hulle van gedaante verander. En sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu; sodat geen voller op aarde hulle kan wit nie. En daar het aan hulle verskyn Elía saam met Moses, en hulle het met Jesus gepraat. En Petrus antwoord en sê vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is, en laat ons drie hutte maak; een vir jou en een vir Moses en een vir Elia. Want hy het nie geweet wat om te sê nie; want hulle was baie bang. En daar was 'n wolk wat hulle oorskadu, en 'n stem het uit die wolk gekom en gesê: Dit is my geliefde Seun; luister na hom. En skielik, toe hulle rondgekyk het, sien hulle niemand meer nie, behalwe Jesus alleen by hulleself. En toe hulle van die berg afklim, het Hy hulle bevel gegee om vir niemand te vertel wat hulle gesien het totdat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. En hulle het daardie woord by hulleself gehou en onder mekaar gevra wat die opstanding uit die dode sou beteken. En hulle het hom gevra en gesê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom? En hy antwoord en sê vir hulle: Elía kom voorwaar eerste en herstel alles; en hoe daar geskrywe is van die Seun van die mens, dat Hy baie moet ly en verwerp word. Maar Ek sê vir julle dat Elía waarlik gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is. En toe Hy by sy dissipels kom, sien Hy 'n groot menigte rondom hulle, en die skrifgeleerdes wat met hulle ondervra. En dadelik was die hele volk, toe hulle hom aanskou, grootliks verbaas, en na hom toe gehardloop en hom gegroet. En Hy vra die skrifgeleerdes: Wat vra julle met hulle? En een uit die skare het geantwoord en gesê: Meester, ek het my seun, wat 'n stomme gees het, na U gebring; En waar hy hom ook al neem, skeur hy hom; en hy skuim en kners met sy tande en kerm weg. En hulle kon nie. Hy antwoord hom en sê: O ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees? hoe lank sal ek jou verdra? bring hom na my toe. En hulle het hom na hom gebring, en toe hy hom sien, het die gees hom dadelik geteister; en hy val op die grond en wentel skuimend. En hy vra sy vader: Hoe lank is dit sedert dit oor hom gekom het? En hy sê: Van 'n kind. En dikwels het dit hom in die vuur en in die water gegooi om hom te verdelg; maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. Jesus sê vir hom: As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir hom wat glo. En dadelik het die vader van die kind uitgeroep en met trane gesê: Here, ek glo; help my ongeloof. Toe Jesus sien dat die skare saamgehardloop het, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stomme en dowe gees, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en kom nie meer in hom nie. En die gees het uitgeroep en hom seer geskeur en uit hom uitgegaan, en hy was soos een dooie; in soverre dat baie gesê het: Hy is dood. Maar Jesus het hom aan die hand geneem en hom opgehef; en hy het opgestaan. En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom alleen: Waarom kon ons Hom nie uitdryf nie? En Hy sê vir hulle: Hierdie soort kan uit niks voortkom nie, behalwe deur gebed en vas.
MARKUS 9:2-29 Die Boodskap (DB)
Ses dae het verbygegaan. Jesus vat toe vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg uit. Niemand anders was saam met hulle nie. Skielik, voor die oë van die drie mans, het Jesus heeltemal anders begin lyk. Sy klere het geskitter en geblink soos g’n mens dit ooit kan laat skitter of blink nie. Plotseling verskyn die ou Godsmanne, Elia en Moses, ook daar voor hulle en begin met Jesus praat. Petrus haak toe af en sê: “Here, dit is so lekker om hier te wees. Laat ons sommer drie huisies hier bou, een vir U en een elk vir Moses en Elia.” Petrus het eintlik net gebabbel, want hy was heeltemal verbouereerd. Hy het nie geweet wat om te sê nie, want hy was bang. Die skaduwee van ’n groot wolk val toe op hulle. Iemand praat toe uit die wolk: “Dit is die Seun wat Ek liefhet. Luister na Hom.” Met die knip van ’n oog was alles en almal weg. Hulle het rondgekyk, maar nog net vir Jesus by hulle sien staan. Terwyl hulle so van die berg afstap, vra Jesus hulle mooi om vir niemand te vertel wat gebeur het voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het niks gesê nie, maar lank met mekaar gesels oor wat Jesus bedoel met “opstaan uit die dood”. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom sê die slim mense dat Elia eers moet kom voordat die beloofde Redder sy opwagting gaan maak?” “Wel,” sê Jesus, “laat Ek dit so stel. Elia sal eers kom om alles reg te kry. Maar wat staan daar in die Skrif oor My? Daar staan dat die Seun van die mens eers moet swaarkry en dat mense Hom moet verneder en verwerp. Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.” Toe Jesus-hulle van die berg af by sy ander volgelinge aankom, sien hulle dat daar ’n hele gedoente aan die gang is, want ’n klomp mense het daar saamgedrom. Die Joodse geleerdes wat die Skrif moes uitlê, was met die volgelinge van Jesus aan die argumenteer. Die mense was verras toe hulle skielik vir Jesus daar sien aankom en hardloop na Hom toe. “Waaroor stry julle so met hulle?” vra Jesus. “Meneer,” sê een van die mense toe, “ek het my seun hiernatoe gebring. ’n Bose gees het hom beetgepak sodat hy nie ’n woord kan uitkry nie. As die bose gees hom pak, slaan hy op die grond neer. Skuim borrel dan by sy mond uit, hy byt vreeslik op sy tande en hy word stokstyf. Ek vra toe u volgelinge om die gees uit my seun te verjaag, maar hulle kon nie.” Jesus sê toe: “Julle glo darem baie swaar. Hoe lank moet Ek nog hier by julle bly voordat julle sal glo? Hoeveel geduld moet Ek nog met julle hê? Bring die seun hier.” Hulle bring toe die seun. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun op die grond neerslaan en stuiptrekkings kry. Voor almal het die seun op die grond gelê en rol terwyl skuim by sy mond uitborrel. “Hoe lank gebeur dit al met hom?” vra Jesus sy pa. “Vandat hy klein is, kry hy sulke snaakse aanvalle,” kom die antwoord. “Dan gooi die gees hom in die vuur of in die water om hom te probeer seermaak. As U ons enigsins kan help, smeek ek U, sien ons verdriet raak en help ons, asseblief!” Jesus reageer toe: “Sê jy: ‘As Ek kan’? Wel, as ’n mens vertrou, is enigiets moontlik.” Die seun se pa roep toe uit: “Ek vertrou, en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.” Jesus sien hoe die mense van alle kante af daar begin saamdrom. Hy praat toe streng met die bose gees: “Jy, gees wat keer dat hierdie seun kan hoor of praat, Ek sê nou vir jou, gee pad uit die seun uit en moenie ooit eens weer daaraan dink om terug te kom nie.” Die gees het vreeslik gegil, die seun nog erger stuiptrekkings laat kry en is toe uit die seun uit. Die seun het doodstil bly lê. Baie mense het gedink hy is dood. Jesus vat toe sy hand en help hom op, en die seun het regop gestaan. Nadat Jesus-hulle weer by die huis ingegaan het, vra sy dissipels Hom stilletjies: “Hoekom kon ons nie van die bose gees ontslae raak nie?” Jesus sê toe: “Hierdie soort bose gees kan net uitgedryf word as jy God in gebed daarvoor vra.”
MARKUS 9:2-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander. Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie. Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat. Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.” Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik. Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.” Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus. Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.” Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken. Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?” Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word? Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.” Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer. Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet. Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?” Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.” Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?” “Van kleins af,” was sy antwoord. “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!” “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!” “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!” Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.” Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!” Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan. Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?” Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”