MARKUS 14:1-52

MARKUS 14:1-52 AFR83

Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.” Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na 'n plan gesoek om Hom by 'n geskikte geleentheid te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.” Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei. Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?” Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: “Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.” Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.” Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.” Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. 'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid