MARKUS 14:1-52

MARKUS 14:1-52 Bybel vir almal (ABA)

Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het skelm planne probeer maak om Jesus te vang en dood te maak. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.” Jesus het in Betanië in die huis van Simon die melaatse man geëet. Daar kom toe 'n vrou en sy het 'n mooi klip-kruikie gehad. In die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die kruikie oopgebreek en sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi. Party van die mense het kwaad geword daaroor en hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom mors sy die olie? Sy kon dit verkoop het en meer as 300 silwer geldstukke gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.” Hulle het met haar geraas. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Los haar. Hoekom pla julle haar? Sy het vir My iets gedoen wat goed is. Die arm mense is altyd by julle en wanneer julle vir hulle goed wil doen, dan kan julle dit doen. Maar Ek sal nie altyd by julle wees nie. Hierdie vrou het gedoen wat sy kon doen. Sy het die lekkerruik-olie oor My gegooi sodat my liggaam gereed kan wees vir my begrafnis. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense die goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.” Judas Iskariot was een van die twaalf dissipels. Hy het na die priesterleiers toe gegaan om Jesus te verraai. Toe die priesterleiers dit hoor, was hulle bly en hulle het belowe om vir Judas geld te gee. Judas het 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, toe die mense die paaslam moes slag, het Jesus se dissipels vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in Jerusalem in. 'n Man wat water in 'n kruik dra, sal na julle toe kom. Gaan saam met hom. Hy sal in 'n huis ingaan, en julle moet vir die eienaar van daardie huis sê: ‘Ons Meneer vra waar is die kamer waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.’ Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat nodig is vir die ete, is daar. Julle moet alles gereedmaak vir die Paas-ete sodat ons daar kan eet.” Die dissipels het gegaan en hulle het in Jerusalem gekom. Hulle het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.” Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal ophou om in My te glo. Die profeet Sagaria het geskryf: “God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nie ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan die tweede maal kraai.” Maar Petrus het aangehou en ernstig gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê ek ken nie vir U nie.” Al die ander dissipels het ook aangehou om dit te sê. Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.” Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom en toe sien Hy die drie dissipels slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Simon, slaap jy? Kon jy nie een uur wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer weggegaan en Hy het dieselfde woorde gebid. Toe Hy terugkom, het Hy gesien die drie dissipels slaap weer, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.” Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen. Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.” Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Daar was 'n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net 'n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou, maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop.

MARKUS 14:1-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien 'n oproer onder die volk kom nie. EN toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit. En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind? Want dit kon vir meer as driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar. Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar. EN Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle oor te lewer. En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. EN op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet? En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom, en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak. En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei. En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet. Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek? En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God. En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie. Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê. TOE kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde. En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai. EN dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge. En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen — dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg. En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom. Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom. En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word. Toe het almal Hom verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman met 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.

MARKUS 14:1-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.” Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na 'n plan gesoek om Hom by 'n geskikte geleentheid te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.” Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei. Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?” Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: “Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.” Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.” Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.” Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. 'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

MARKUS 14:1-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood sou twee dae later plaasvind. Die leierpriesters en skrifkenners het 'n manier gesoek om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk ontstaan nie.” Terwyl Hy in Betanië in die huis van Simon die Melaatse vir ete aangeleun het, het daar 'n vrou met 'n albasterfles egte, baie duur nardusolie gekom, die albasterfles gebreek en die nardusolie oor sy kop uitgegiet. Sommige het verontwaardig onder mekaar gesê: “Waarom het hierdie verkwisting van die kosbare reukolie plaasgevind? Hierdie olie kon vir meer as driehonderd denarius verkoop word, en dit kon aan die armes gegee word.” En hulle het teen haar uitgevaar. Jesus het egter gesê: “Laat haar begaan! Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle tog altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle hulle help; maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon doen, het sy gedoen. Sy het vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer. Hulle was bly toe hulle dit hoor, en het beloof om vir hom geld te gee. Daarop het hy na 'n manier gesoek om Hom op 'n gepaste geleentheid oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal afvallig raak, want daar staan geskryf: “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus sê daarop vir Hom: “Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.” Jesus antwoord hom: “•Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën.” Maar Petrus het uitdruklik gesê: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Almal het dieselfde gesê. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ” Hy kom en vind hulle toe aan die slaap, en sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë het swaar geword. Hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. Hy kom toe 'n derde keer en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!” En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug. Ook 'n sekere jong man met net 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug.

MARKUS 14:1-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Na twee dae was die fees van die pasga en die fees van die ongesuurde brode; Maar hulle het gesê: Nie op die feesdag nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk sal wees nie. En terwyl hy in Betanië in die huis van Simon die melaatse was, terwyl hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste boks met baie kosbare nardussalf; en sy het die boks gebreek en dit op sy kop uitgegooi. En daar was sommige wat in hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarom is hierdie verkwisting van die salf gemaak? Want dit kon vir meer as driehonderd pennings verkoop gewees het en aan die armes gegee gewees het. En hulle het teen haar gemurmureer. En Jesus sê: Laat haar staan; waarom pla julle haar? sy het 'n goeie werk aan my gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar aan My het julle nie altyd nie. Sy het gedoen wat sy kon: sy het vooraf gekom om my liggaam te salf vir die begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig sal word, sal ook daarvan gespreek word wat sy gedoen het tot 'n gedagtenis van haar. En Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle te verraai. En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om vir hom geld te gee. En hy het gesoek hoe hy hom gerieflik kon verraai. En op die eerste dag van die ongesuurde brode, toe hulle die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan en berei dat U die pasga kan eet? En Hy het twee van sy dissipels uitgestuur en vir hulle gesê: Gaan na die stad, en daar sal vir julle 'n man ontmoet wat 'n kruik water dra; volg Hom. En waar hy ook al ingaan, sê vir die eienaar van die huis: Die Meester sê: Waar is die gastekamer waar Ek die pasga saam met my dissipels sal eet? En hy sal jou 'n groot bovertrek wys wat toegerus en gereed is; maak daar vir ons gereed. En sy dissipels het uitgegaan en in die stad gekom en gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga berei. En in die aand kom hy met die twaalf. En terwyl hulle sit en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle wat saam met My eet, sal My verraai. En hulle het begin bedroef word en een vir een vir Hom sê: Is dit ek? en 'n ander een sê: Is dit ek? En hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met my in die skottel doop. Die Seun van die mens gaan wel weg, soos van Hom geskrywe is, maar wee die mens deur wie die Seun van die mens verraai is! goed was dit vir daardie man as hy nooit gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood en seën en breek dit en gee aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. En Hy neem die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle; en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed van die nuwe testament, wat vir baie vergiet word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nie meer van die vrug van die wingerdstok drink nie, tot op daardie dag dat Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God. En nadat hulle 'n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. En Jesus sê vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem deur My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Maar Petrus sê vir hom: Al sal almal aanstoot neem, tog sal ek nie. En Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, selfs in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Maar hy het nog harder gesê: As ek saam met jou sterf, sal ek jou op geen manier verloën nie. So ook het hulle almal gesê. En hulle het by 'n plek gekom met die naam van Getsemane, en Hy sê vir sy dissipels: Sit hier terwyl Ek bid. En hy het Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en begin verbaas word en baie swaar geword; En sê vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En hy het 'n bietjie vorentoe gegaan en op die grond geval en gebid dat, as dit moontlik was, die uur by hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alles is vir U moontlik; neem hierdie beker van my weg; nogtans nie wat ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en kry hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? kon jy nie een uur waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is waarlik gereed, maar die vlees is swak. En weer het Hy weggegaan en gebid en dieselfde woorde gespreek. En toe hy terugkom, vind hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar, en hulle het nie geweet wat om hom te antwoord nie. En Hy het vir die derde keer gekom en vir hulle gesê: Slaap nou verder en rus. Dit is genoeg, die uur het gekom; kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy wat My verraai, is naby. En dadelik, terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge af. En hy wat Hom verraai het, het hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; neem hom en lei hom veilig weg. En sodra hy gekom het, gaan hy dadelik na hom en sê: Meester, meester! en hom gesoen. En hulle het hom die hande opgelê en hom gegryp. En een van die wat daar gestaan het, het 'n swaard getrek en 'n dienaar van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n dief uitgetrek met swaarde en stokke om My te vang? Ek was daagliks saam met julle in die tempel en leer, en julle het My nie geneem nie, maar die Skrifte moet vervul word. En hulle het hom almal verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman het Hom gevolg, met 'n linnedoek om sy naakte liggaam gegiet; en die jongmanne het hom gegryp. En hy het die linnedoek gelos en naak van hulle weggevlug.

MARKUS 14:1-52 Die Boodskap (DB)

Die groot fees van die Jode, die paasfees, en nog ’n ander fees, naamlik die fees van die ongesuurde brood, was om die draai. Dit was nog maar twee dae voor die feestelikhede met mening sou begin. Die godsdienstige leiers van die Jode in Jerusalem het aan allerhande agterbakse planne gedink om Jesus te vang en te laat doodmaak. “Ons kan dit nie doen terwyl die mense feesvier nie, want dan het ons ’n opstand onder die mense,” het hulle geredeneer. In daardie stadium was Jesus nog in Betanië. Hy het by Simon, wat melaats was, gaan eet. ’n Vrou kom toe die eetkamer in. By haar het sy ’n potjie baie duur parfuum gehad wat van nardus gemaak was. Sy het die potjie oopgemaak en alles op Jesus uitgegooi, veral op sy hare. Van die ander mense aan tafel was baie omgekrap. Hulle het eers so onderlangs gemompel en toe vir die vrou gesê: “Hou op, hoekom mors jy die parfuum so? Ons kon dit maklik gaan verkoop en amper ’n jaar se salaris daarvoor gekry het. Dink net hoeveel arm mense kon ons met daardie geld gehelp het.” Hulle het sommer lelik met haar geraas. Jesus sien toe wat aangaan. “Los haar! Waarom kraak julle haar so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Dit is so ’n mooi gebaar. Onthou een ding: julle kan later die arm mense help, want daar sal altyd van hulle wees. Julle sal meer as genoeg kans kry om dit te doen. Maar Ek gaan nie altyd so by julle wees nie. Sy het hierdie parfuum oor My uitgegooi terwyl sy nog kon. Hierdie liggaam van My gaan binnekort in ’n graf lê. Sy het egter die parfuum betyds oor My uitgegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Sowaar, waar mense in die toekoms oor My gaan praat, gaan hulle oor haar ook praat. Dit maak nie saak waar dit is nie, maar hulle sal haar onthou.” Omtrent in daardie tyd het Judas, een van die twaalf getroue volgelinge van Jesus, besluit om teen Hom te draai. Hy is na die Joodse godsdienstige leiers toe om te hoor of hy hulle kon help om Jesus te vang. Die godsdienstige leiers was natuurlik baie bly om dit te hoor. Hulle het vir hom ’n hele klomp geld beloof as hy hulle sou help. Judas het sy kans mooi afgewag om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood wat Israel in Egipte moes eet, is die lam vir die paasfees ook geslag. Juis toe vra Jesus se volgelinge Hom: “Waar moet ons vir ons die paasete gaan regmaak?” Jesus stuur toe twee van sy volgelinge: “Gaan Jerusalem toe. Daar sal julle ’n man kry wat ’n emmer water dra. Loop agter hom aan tot hy by ’n huis ingaan. Sê dan vir die man aan wie die huis behoort: ‘Jesus, wat die mense so van God vertel, vra waar die kamer is waar Hy en sy volgelinge die paasete kan eet.’ Hy sal julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van die huis vat. Alles sal klaar regstaan. Daar moet julle die kos vir die ete begin voorberei.” Die twee volgelinge is toe daar weg en in Jerusalem het hulle alles net so gekry soos Jesus gesê het. Hulle het toe die kos vir die paasfees begin regmaak. Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.” Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe. Jesus het verder gepraat: “Julle almal gaan die rug vir My draai asof julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word en dan na Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie en sê toe ernstig: “Al hardloop almal weg en maak asof hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Wel, dan het Ek nuus vir jou,” kom dit van Jesus. “Vandag, om meer presies te wees, vannag voor dit tyd word vir die haan om die tweede maal te kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy nog nooit iets met My te doen gehad het nie.” Hardkoppig het Petrus aangehou: “Ek sal dit nooit ooit doen nie. Al maak hulle my dood, ek sal dit nie doen nie.” Die ander het almal ook so gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit is ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag hier, Ek gaan bid.” Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgevat. Jesus was aan die worstel en het baie bedruk gevoel. “Ek voel doodsbenoud. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,” sê Hy vir die drie. “Wag julle hier en kyk dat niemand ons hier verras nie.” Jesus het toe ’n entjie verder gaan kniel en God gevra of daar nie miskien ’n moontlikheid was dat die verskriklike dinge wat vir Hom wag, nie hoef te gebeur nie. “My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.” Toe Jesus by die ander drie kom, lê hulle vas aan die slaap. “Simon,” sê Jesus vir Petrus, “wat gaan aan? Slaap julle? Kon jy sowaar nie eens ’n uurtjie wakker bly om te kyk dat iemand ons nie aanval nie? Jy sal baie wakkerder moet wees as dit by versoekings kom. Vra God om jou te help om nie die verkeerde dinge te doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie.” Weer het Jesus gaan bid en dieselfde as die eerste maal gevra. Toe Hy terugkom, kry Hy die drie weer so. Hulle was so vaak dat hulle sowaar weer aan die slaap geraak het. Toe Jesus daar aankom, was hulle so skaam dat hulle nie mooi geweet het wat om vir Hom te sê nie. ’n Derde maal het Jesus gaan bid en toe Hy terugkom, sê Hy vir hulle: “Julle lê lekker en slaap asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus. Dit is nou genoeg. Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul sondige Jode gaan My netnou kom vang en dit omdat iemand My gaan verraai. Komaan, laat ons gaan. My verraaier is net hier om die draai.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of daar staan Judas, wat een van sy twaalf getrouste volgelinge was. Hy was nie alleen nie. Om hom en agter hom het ’n hele bende mense gestaan met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om te keer dat hulle die verkeerde een vang, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is die een! Sorg dat julle hom in die hande kry en sê vir die wagte om hom goed op te pas.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang. Die mense storm op Jesus af en vang Hom. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe. “Ek het dag vir dag hier tussen julle rondgestap. Oop en bloot, voor almal, het Ek op die plein langs die tempel vir mense van God vertel. Hoekom het julle My nie toe gegryp nie? Toemaar, Ek ken die antwoord: dit is omdat wat die Skrif lankal gesê het gaan gebeur, moet gebeur.” Al sy volgelinge het toe gemaak dat hulle wegkom. Een van sy volgelinge het egter op ’n afstand agter die spul mense aangeloop wat vir Jesus gevang het. Hy het net ’n stuk klere van linne aangehad. Toe hulle hom gryp, wikkel hy hom los en hardloop sonder sy klere kaal weg. Sy klere het by die ander mense agtergebly.

MARKUS 14:1-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterhoofde en die skrifkenners was nog op soek na ’n geleentheid om Jesus in die geheim te vang en dood te maak. Want hulle het saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders ontstaan daar oproer onder die volk.” Intussen was Jesus in Betanië by die huis van Simon, die man wat van ’n ernstige velsiekte genees is. Tydens die ete kom daar ’n vrou in met ’n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit. Sommige van dié wat saam aan tafel was, was verontwaardig daaroor. “Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?” het hulle gesê. “Ons kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop het en die geld vir die armes gegee het.” En hulle het haar uitgetrap. Jesus het hulle egter geantwoord: “Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik? Sy het ’n weldaad aan My gedoen. Die armes sal julle altyd by julle hê, en julle kan enige tyd wanneer julle so voel, aan hulle goeddoen. Maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie. Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis. “Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!” Daarop het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan om met hulle reëlings te tref oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer. Toe hulle dit hoor, was hulle verheug en het hulle hom ’n bedrag geld beloof. Hy was toe op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood – die dag waarop hulle die paaslammers geslag het – sê Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U die paasete gaan voorberei?” Hy stuur toe twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan stad toe. Daar sal julle ’n man sien wat ’n kruik water dra. Gaan agter hom aan en waar hy indraai, moet julle vir die huiseienaar sê: ‘Die Leermeester vra: Waar is die gastekamer waar Ek die Paasfees saam met my dissipels kan geniet?’ Dan sal hy vir julle ’n groot bovertrek wys wat klaar gereed staan. Dáár kan julle vir ons die maaltyd voorberei.” Toe het die twee vooruit gegaan stad toe, en hulle het alles presies gekry soos Jesus vir hulle gesê het. En hulle het die paasmaaltyd voorberei. Teen die aand het Jesus toe saam met die twaalf dissipels daar aangekom. Terwyl hulle besig was om te eet, sê Jesus: “Ek sê nou vir julle, een van julle gaan My uitlewer, een van julle wat nou hier saam met My eet.” Geweldig geskok vra hulle toe een vir een vir Hom: “Dit kan tog sekerlik nie ek wees nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Hy is een van julle twaalf, een wat saam met My sy brood in die bak week. Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!” Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe. Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam. Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!” Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan. “ Abba ” – dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.” Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid. Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord. Toe Hy die derde keer by hulle terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Dis nou genoeg! Die tyd het aangebreek. Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan. Kyk, my verraaier is hier.” Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde. Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet. Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer. Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap. Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.” Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang, maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop.