“Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. “Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.” “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie.
Lees MARKUS 13
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 13:24-36
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's