MARKUS 12:18-37

MARKUS 12:18-37 AFR83

Toe kom daar Sadduseërs na Jesus toe. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat maar nie kinders het nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie. Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so. Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe. Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ nie? Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!” Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” “Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie. ’ En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.” Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie. Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ “Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?” Die groot menigte mense het graag na Hom geluister.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 12:18-37