Die •Sadduseërs kom toe na Hom, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer sterf’ en 'n vrou agterlaat, ‘maar nie 'n kind nalaat nie, sy broer die vrou moet neem en 'n nageslag vir sy broer moet verwek’. Daar was sewe broers. Die eerste het 'n vrou geneem en by sy dood nie 'n nageslag agtergelaat nie. Die tweede het haar toe geneem en gesterf sonder om 'n nageslag agter te laat. Die derde net so. Nie een van die sewe het 'n nageslag agtergelaat nie. Laaste van almal het ook die vrou gesterf. By die opstanding, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar immers as vrou gehad.”
Jesus sê vir hulle: “Is dit nie die rede waarom julle dwaal nie: omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie? Want wanneer hulle uit die dood opstaan, tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemele. En wat die opwekking van die dooies betref, julle het tog in die boekrol van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het, ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes. Julle dwaal erg!”
Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gekom. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy Hom: “Watter gebod is die belangrikste van almal?” Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag’. Die tweede is dit, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie.”
Die skrifkenner het vir Hom gesê: “Uitstekend, Meester, dit is waar wat u sê, dat ‘Hy die Enigste is en dat daar geen ander is as Hy nie’. ‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag, en om jou naaste lief te hê soos jouself’, is belangriker as al die •brandoffers en diereoffers.” Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die •koninkryk van God nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie.
Ná hierdie antwoord van Hom het Jesus op die tempelterrein onderrig gegee en gesê: “Hoe is dit dat die skrifkenners sê dat die Christus Dawid se seun is? Dawid self het deur die Heilige Gees gesê:
“ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het. ’
“Dawid self noem Hom ‘Here’. Hoe kan Hy dan sý seun wees?” Die groot skare het graag na Hom geluister.