MATTEUS 22:27-40

MATTEUS 22:27-40 AFR83

En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Video for MATTEUS 22:27-40