Matteus 22:27-40

Matteus 22:27-40 DB

Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus se antwoord was: “Dit is nou ’n dom vraag, veral om twee redes: julle ken nie die Skrif nie en julle onderskat die krag van God heeltemal. As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees. Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê: Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?” Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het. Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek. Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel. “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig. Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.”