MATTEUS 22:27-40
MATTEUS 22:27-40 Bybel vir almal (ABA)
Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie. Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel. Julle vra oor mense wat gesterf het wat weer sal lewe. Maar het julle nie gelees nie? God het vir julle gesê: ‘ Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ “God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe.” Toe hulle dit hoor, was al die mense baie verbaas oor wat Jesus vir hulle geleer het. Die Fariseërs het gehoor Jesus het die Sadduseërs so goed geantwoord dat die Sadduseërs nie geweet het wat om nog te vra nie. Die Fariseërs het toe bymekaargekom. Een van hulle wat die Joodse wette goed geken het, wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee. Hy het vir Jesus gevra: “Wat is die belangrikste wet van die Here?” Jesus het vir hom gesê: “ ‘ Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en belangrikste wet. Die tweede wet is net so belangrik. Dit is: ‘ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ “Hierdie twee wette sê alles wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir ons leer.”
MATTEUS 22:27-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En laaste van almal het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees — want hulle almal het haar gehad? Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. EN toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
MATTEUS 22:27-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
MATTEUS 22:27-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laaste van almal het die vrou gesterf. By die opstanding, wie van die sewe se vrou sal sy dan wees? Almal het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle egter geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie. By die opstanding tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God aan julle gesê het nie, ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy lering. Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. Een van hulle, 'n wetskenner, het vervolgens 'n vraag gestel om Hom te toets: “Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete. ”
MATTEUS 22:27-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En laaste van almal het die vrou ook gesterf. Daarom, in die opstanding, wie se vrou sal sy van die sewe wees? want hulle het haar almal gehad. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle dwaal deurdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos die engele van God in die hemel. Maar wat die opstanding van die dode betref, het julle nie gelees wat deur God tot julle gespreek is deur te sê: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie die God van die dooies nie, maar van die lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy leer. Maar toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs tot swye gebring het, was hulle bymekaar. Toe het een van hulle, wat 'n wetgeleerde was, hom 'n vraag gevra en hom versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? Jesus sê vir hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede is daarmee gelyk: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
MATTEUS 22:27-40 Die Boodskap (DB)
Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus se antwoord was: “Dit is nou ’n dom vraag, veral om twee redes: julle ken nie die Skrif nie en julle onderskat die krag van God heeltemal. As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees. Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê: Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?” Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het. Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek. Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel. “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig. Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.”
MATTEUS 22:27-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Laaste van almal is die vrou ook dood. “Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees? Hulle was tog almal met haar getroud.” Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie. Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees. Maar wat die opstanding van die dooies betref – het julle niks hieroor in die Skrif raakgelees nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers gesê: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie.” Toe die skare hiervan hoor, was hulle diep beïndruk deur Jesus se onderrig. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink. Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek: “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en belangrikste opdrag. Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”