MATTEUS 22:23-46

MATTEUS 22:23-46 AFR83

Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s'n,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ “As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?” Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.

Video for MATTEUS 22:23-46