Matteus 22:23-46

Matteus 22:23-46 AFR20

Daardie selfde dag kom die •Sadduseërs, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, na Hom en vra: “Meester, Moses het gesê, ‘As iemand sonder kinders sterf, moet sy broer met die vrou trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ By ons was daar sewe broers. Die eerste het getrou en gesterf, en sy vrou vir sy broer agtergelaat, omdat hy nie self 'n nageslag gehad het nie. Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer tot by die sewende een. Laaste van almal het die vrou gesterf. By die opstanding, wie van die sewe se vrou sal sy dan wees? Almal het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle egter geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie. By die opstanding tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God aan julle gesê het nie, ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy lering. Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. Een van hulle, 'n wetskenner, het vervolgens 'n vraag gestel om Hom te toets: “Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete. ” Toe die •Fariseërs bymekaar was, het Jesus hulle gevra: “Wat sê julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s'n.” Hy vra hulle toe: “Hoe kan Dawid Hom dan, deur die werking van die Gees, ‘Here’ noem, as hy sê, “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het’? “As Dawid Hom dan ‘Here’ noem, hoe kan Hy sy Seun wees?” Niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; en van daardie dag af het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie.

Video for Matteus 22:23-46