MATTEUS 2:1-8

MATTEUS 2:1-8 AFR83

Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. ” Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”