Matteus 2:1-8

Matteus 2:1-8 DB

Jesus is in die dorp Betlehem gebore. Dit is in die landstreek van Judea. In daardie tyd was Herodes die Grote die koning van die mense in Palestina. ’n Paar sterrekenners uit die ooste het kort na Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom. Hulle het oral in Jerusalem begin rondvra waar hulle die ware koning van die Jode kon vind. “Ons het ’n ster in die ooste gesien. Dit is die bewys dat ’n baie belangrike koning hier in julle land gebore is. Daarom het ons hierheen gekom om aan hom eer te kom bewys.” Kort voor lank het Herodes ook van die geleerdes uit die ooste se storie te hore gekom. Hy was baie omgekrap oor wat hulle oor die nuwe Joodse koning gesê het. So ook die res van Jerusalem. Daarom het hy gou al die godsdienstige leiers en die skrifkenners van die volk byeengeroep. Hy wou by hulle weet presies waar die Messias, God se Gestuurde, gebore sou word. “In Betlehem, in die landstreek van Judea,” het hulle geantwoord. Die profeet Miga het immers geskryf: “Betlehem, jy is lankal nie meer ’n onbenullige klein plekkie iewers in Juda nie. ’n Groot leier sal nog uit jou midde kom. Hy sal Israel lei, net soos ’n herder sy skape lei.” Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.”