Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!”
Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.” Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as 'n profeet beskou het.
Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.”
Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.
Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.
Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”
Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”
“Bring dit vir My hier,” sê Hy.
Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.
Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.
Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.
Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
“Kom!” sê Hy.
Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”
Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”
Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.