MATTEUS 14:1-36
MATTEUS 14:1-36 Bybel vir almal (ABA)
Koning Herodes het in daardie tyd oor die provinsie Galilea regeer. Hy het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Hy sê toe vir sy amptenare: “Hierdie man is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om vir Johannes die Doper te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het dit gedoen omdat Johannes aangehou het om vir hom te sê hy mag nie trou met Herodias, sy broer Filippus se vrou nie. Herodes wou toe vir Johannes laat doodmaak, maar hy was bang vir die mense, omdat hulle gedink het Johannes is 'n profeet. Op Herodes se verjaarsdag het die dogter van Herodias tussen al die mense gedans. Dit was vir Herodes baie mooi, daarom het hy belowe om vir haar enige iets te gee wat sy vra. Haar ma het vir haar gesê wat sy moet vra, en daarom het sy gesê: “Bring vir my die kop van Johannes die Doper hier in 'n skottel.” Die koning het baie hartseer geword, maar hy het dit vir haar belowe en al die mense wat saam geëet het, het dit gehoor. Daarom het hy gesê sy soldate moet doen wat sy gevra het. Hy het soldate gestuur om Johannes die Doper se kop in die tronk af te kap. Die soldate het sy kop in 'n skottel gebring en hulle het dit vir die meisie gegee, en sy het dit vir haar ma gegee. Die dissipels van Johannes die Doper het gekom en hulle het sy liggaam weggeneem en dit begrawe. Toe het hulle gegaan en vir Jesus vertel wat gebeur het. Jesus het gehoor wat gebeur het. Hy het toe in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gehoor waar Jesus is en hulle het na Hom toe geloop uit die stede. Jesus het uit die boot geklim en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy het die siek mense wat by hulle was, gesond gemaak. Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.” Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.” Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders. Daarna het Jesus vir die dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en voor Hom na die ander kant van die see gaan. Hy wou eers vir die mense sê hulle moet huis toe gaan. Nadat Jesus al die mense huis toe gestuur het, het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid. Dit het donker geword en Jesus was alleen daar. Die boot was toe ver van die land. Die branders het die boot rondgegooi, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend, voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gekom. Hy het op die see geloop. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle baie bang geword en gesê: “Dit is 'n spook!” Hulle was baie bang, en hulle het hard geskree. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Petrus sê toe vir Jesus: “Here, as dit U is, sê dan ek moet op die water na U toe loop.” Jesus het vir hom gesê: “Kom!” Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe. Maar toe Petrus sien die wind is sterk, het hy bang geword. Hy het begin sink en hy het geskree: “Here, red my!” Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en Hy het hom gegryp en vir hom gesê: “Hoekom is jou geloof so min, hoekom het jy begin twyfel?” Hulle het in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die mense wat in die boot was, het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “Waarlik, U is die Seun van God.” Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret afgeklim van die boot. Toe die mense van Gennesaret sien dit is Jesus, het hulle boodskappers gestuur om vir die mense daar naby te vertel dat Jesus daar is. Hulle het al die siek mense na Jesus toe gebring. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.
MATTEUS 14:1-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in daardie tyd het Herodes, die viervors, die gerug van Jesus gehoor en aan sy knegte gesê: Hierdie man is Johannes die Doper. Hy het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in hom. Want Herodes het Johannes gevang, hom geboei en in die gevangenis gesit vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer. Want Johannes het vir hom gesê: Dit is u nie geoorloof om haar te hê nie. En hoewel hy hom wou doodmaak, het hy die skare gevrees, omdat hulle hom vir 'n profeet gehou het. Maar by die viering van die verjaarsdag van Herodes het die dogter van Heródias voor hulle gedans en Herodes behaag. Daarom het hy met 'n eed beloof om haar enigiets te gee wat sy sou vra. Toe sê sy, nadat sy deur haar moeder aangehits was: Gee my hier op 'n skottel die hoof van Johannes die Doper. En die koning het treurig geword, maar ter wille van die eed en die feesgenote het hy beveel dat dit gegee moes word. En hy het gestuur en Johannes in die gevangenis onthoof. Sy hoof is toe op 'n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring. En sy dissipels het gekom en sy liggaam weggeneem en dit begrawe; en hulle het gegaan en dit aan Jesus vertel. En toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n skuit vertrek na 'n verlate plek alleen. En die skare het dit gehoor en Hom van die stede af te voet gevolg. EN toe Jesus uitgaan, het Hy 'n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. En toe dit aand geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol. En dit was omtrent vyfduisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders. EN Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is 'n spook! En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie. En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom. En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê. Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God! En hulle het oorgevaar en in die land Gennésaret gekom. En die manne van daardie plek het Hom herken en in daardie hele omtrek uitgestuur en almal wat ongesteld was, na Hom gebring; en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword.
MATTEUS 14:1-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!” Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.” Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as 'n profeet beskou het. Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.” Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.” Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” “Bring dit vir My hier,” sê Hy. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders. Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.” Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.
MATTEUS 14:1-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het Herodes, die tetrarg, die berigte omtrent Jesus gehoor. Hy het vir sy dienaars gesê: “Hierdie man is Johannes die Doper; hy is opgewek uit die dood, en daarom werk hierdie kragte in hom.” Herodes het Johannes immers gevange laat neem, hom laat boei en in die tronk laat sit, en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou hê nie.” Hoewel Herodes hom wou doodmaak, was hy vir die skare bang, omdat hulle Johannes as 'n profeet beskou het. Tydens Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor almal gedans, en sy het Herodes bekoor. Daarom het hy met 'n eed beloof om wat sy ook al vra, aan haar te gee. Aangehits deur haar moeder, het sy gesê: “Bring vir my hier, op 'n skinkbord, die kop van Johannes die Doper.” En hoewel die koning hieroor ontsteld was, het hy, vanweë sy eed en hulle wat aangeleun het vir ete, beveel dat dit vir haar gebring moes word. Hy het toe iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Sy kop is in 'n skottel gebring en vir die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder geneem. Sy dissipels het gekom, die liggaam geneem en hom begrawe; daarna het hulle dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op sy eie te wees. Maar die skare het dit te hore gekom en Hom te voet uit die dorpe gevolg. Toe Hy uitklim, het Hy die groot skare gesien, hulle innig jammer gekry en hulle siekes gesond gemaak. Toe dit laat begin word, kom die dissipels na Hom en sê: “Die plek is verlate, en dit is reeds laat. Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop. ” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.” Nadat Hy die skare aangesê het om op die gras te gaan sit, het Hy die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe gebreek, vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, twaalf mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar ongeveer vyfduisend mans wat geëet het. En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en solank voor Hom uit na die oorkant te vaar, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy teen die berg opgegaan om in afsondering te bid. Toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. Die boot was reeds 'n hele aantal stadion weg van die land af, en is deur die golwe heen en weer geslinger, want die wind was teen hulle. In die vierde nagwaak het Hy na hulle toe aangeloop gekom op die see. Toe die dissipels Hom op die see sien loop, het hulle vreesbevange geraak en gesê, “Dit is 'n spook!” en van angs begin skreeu. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” •Petrus het Hom geantwoord: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.” Hy het gesê: “Kom!” Petrus het van die boot afgeklim en op die water geloop, en na Jesus begin gaan. Maar toe hy sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword. Toe hy begin sink, skreeu hy: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Toe hulle in die boot klim, het die wind gaan lê. Dié in die boot het voor Hom neergeval en gesê: “Waarlik, U is die •Seun van God!” Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle aan wal gegaan by Gennesaret. Toe die manne van daardie plek Hom herken, het hulle daardie hele omgewing laat weet, en hulle het almal wat siek was, na Hom gebring en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat dit aangeraak het, is genees.
MATTEUS 14:1-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In daardie tyd het Herodes, die viervors, van die roem van Jesus gehoor, En hy het aan sy dienaars gesê: Dit is Johannes die Doper; hy is opgewek uit die dood; en daarom word kragtige werke in hom openbaar. Want Herodes het Johannes gegryp en hom gebind en in die tronk gesit ter wille van Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Want Johannes sê vir hom: Dit is nie geoorloof vir jou om haar te hê nie. En toe hy hom wou doodmaak, was hy bang vir die skare, want hulle het hom as 'n profeet gereken. Maar toe Herodes se verjaarsdag gehou is, het die dogter van Herodias voor hulle gedans en Herodes behaag. Daarop het hy met 'n eed belowe om haar te gee wat sy ook al sou vra. En nadat sy vantevore deur haar moeder onderrig was, sê sy: Gee my hier die hoof van Johannes Doper in 'n bak. En die koning was jammer; maar ter wille van die eed en die wat saam met hom aan tafel was, het hy beveel dat dit aan haar gegee moes word. En hy het gestuur en Johannes in die tronk onthoof. En sy kop is in 'n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring. En sy dissipels het gekom en die liggaam geneem en dit begrawe en gegaan en dit vir Jesus vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan per skip vertrek na 'n verlate plek afgesonder; en toe die skare dit hoor, het hulle Hom te voet uit die stede gevolg. En Jesus het uitgegaan en 'n groot menigte gesien, en Hy was innig jammer vir hulle, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. En toe dit aand geword het, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en die tyd is nou verby; stuur die skare weg, dat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel kan koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. Hy sê: Bring hulle hier na my toe. En Hy het die skare bevel gegee om op die gras te gaan sit, en Hy het die vyf brode en die twee visse geneem en na die hemel opgekyk, geseën en gebreek en die brode aan sy dissipels gegee en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword, en van die brokstukke wat oorgebly het, het hulle twaalf mandjies vol opgetel. En die wat geëet het, was omtrent vyf duisend man, buiten vroue en kinders. En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in 'n skip te klim en voor Hom uit na die oorkant te gaan, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy op 'n berg afgesonder om te bid; en toe dit aand geword het, was Hy alleen daar. Maar die skip was nou in die middel van die see, deur die golwe gegooi, want die wind was teenstrydig. En in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gegaan terwyl hy op die see wandel. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, was hulle ontsteld en sê: Dit is 'n gees; en hulle het uitgeroep uit vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed; dit is ek; wees nie bang nie. En Petrus het Hom geantwoord en gesê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom. En hy sê: Kom! En toe Petrus uit die skip afklim, het hy op die water geloop om na Jesus toe te gaan. Maar toe hy die wind sien woes, was hy bang; en begin sink, het hy uitgeroep en gesê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: O kleingelowige, waarom het jy getwyfel? En toe hulle in die skip klim, het die wind gaan lê. Toe het die wat in die skuit was, gekom en Hom aanbid en gesê: Voorwaar, U is die Seun van God. En toe hulle deurgetrek het, het hulle in die land Genesaret gekom. En toe die manne van daardie plek hom te wete gekom het, het hulle na die hele land rondom gestuur en almal wat siek was, na hom gebring; En hom gesmeek dat hulle net die soom van sy kleed mag aanraak, en almal wat dit aangeraak het, is volkome gesond gemaak.
MATTEUS 14:1-36 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd het Herodes Antipas, die heerser van Galilea, te hore gekom dat Jesus baie gewild onder die mense is. Hy het vir die amptenare wat in sy paleis gewerk het, gesê: “Dit kan net Johannes die Doper wees wat uit die dood teruggekom het. Daarom doen hy nou al hierdie wonderwerke.” Johannes het natuurlik vroeër vir Herodes in die openbaar van owerspel beskuldig omdat hy sy broer, Filippus, se vrou afgevat het. Haar naam was Herodias. Johannes het reguit vir Herodes gesê: “Dit is verkeerd dat jy haar vir jou vat!” Herodes was so kwaad hieroor dat hy Johannes in die tronk gegooi het. Hy wou Johannes daar en dan doodmaak. Maar hy het besef dat dit tot ’n opstand onder die mense kon lei omdat hulle Johannes as ’n spesiale boodskapper van God beskou het. ’n Rukkie later het Herodias haar verjaardagpartytjie gehou. Haar dogter het vir al die gaste gedans. Herodes was baie beïndruk met haar. Hy het haar nader geroep en plegtig voor almal beloof om haar enigiets te gee wat sy vra. Op aandrang van haar ma sê sy toe vir Herodes: “Ek wil graag Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê.” Hierdie versoek het Herodes heeltemal onkant betrap. Hy was baie omgekrap hieroor, maar hy het besef dat hy sy woord moes hou. Sy eer was op die spel voor al die gaste. Daarom het hy sy soldate gestuur om Johannes se kop in die tronk te gaan afkap. Hulle het daarna sy kop op ’n skinkbord vir die meisie gebring. Sy het dit na haar ma toe gevat. Later het Johannes se volgelinge sy liggaam kom haal en gaan begrawe. Hulle het vir Jesus gaan vertel wat gebeur het. Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur. Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly. Intussen was die dissipels reeds ver uit op die see toe daar ’n storm opsteek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor het dit vir hulle baie moeilik gemaak om te roei. Kort voor dagbreek die volgende môre het Jesus besluit om na sy dissipels toe te gaan. Hy het sommer op die water na hulle toe gestap. Toe die dissipels Hom sien, het hulle hulle morsdood geskrik. “’n Spook, ’n spook!” het hulle benoud uitgeroep. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Petrus roep toe: “Here, as dit regtig U is, sê dan vir my om op die water na U toe te stap.” “Waarvoor wag jy? Kom!” het Jesus geantwoord. Petrus het dadelik uitgeklim en op die water na Hom toe begin stap. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het sy moed hom begeef. Hy het begin sink. Hy roep toe benoud: “Here, red my!” Jesus het sy hand vinnig uitgesteek en hom uit die water opgetrek. “Hoekom is jou geloof so klein? Hoekom hou jy nie aan glo nie?” het Hy verwytend vir Petrus gevra. Hulle het daarna in die skuit geklim en die wind het skielik bedaar. Die dissipels wat in die boot was, het in eerbied voor Jesus neergeval. Hulle het Hom aanbid en gesê: “U is regtig die Seun van God!” Daarna het hulle na die landstreek van Gennesaret oorgevaar. Daar aangekom, het die inwoners Jesus herken. Hulle het haastig vir almal in die omgewing laat weet, sodat die siekes na Hom toe begin stroom het. So baie mense het later opgedaag dat hulle Hom gevra het of hulle net maar aan sy klere se soom kon raak. Hy het ja gesê. Almal wat aan sy soom geraak het, het gesond geword.
MATTEUS 14:1-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Juis in daardie tyd het Herodes Antipas van Jesus se optrede gehoor. Daarop sê hy vir sy paleispersoneel: “Hierdie man is niemand anders as Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het nie! Daarom kan hy sulke wonderwerke doen.” Herodes het vir Johannes oor Herodias laat arresteer, hom geboei en in die tronk gegooi. Herodias was sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het haar vir homself toegeëien. Johannes het hom hieroor herhaaldelik aangespreek en vir hom gesê: “Jy mag dit nie doen nie.” Hieroor wou Herodes hom om die lewe bring, maar hy was bang vir die volk se reaksie, want in hulle oë was Johannes ’n profeet. Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.” Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!” Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word. Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof. Sy kop is op ’n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het. Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe. Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het. Toe Jesus dit hoor, het Hy in ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom. Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ’n massa mense bymekaar was. Hy het ’n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak. Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.” “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.” “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel! Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders. Dadelik hierna het Jesus sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur. Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar. Ondertussen was die skuit reeds ver van die land af. Met ’n sterk wind teen hulle moes hulle teen woeste golwe veg. Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.” “Kom dan,” het Jesus gesê. Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop. Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!” Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom ge-gryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?” En toe hulle in die skuit terugklim, gaan lê die wind. Daarop het die mense in die skuit Hom aanbid. “U is werklik die Seun van God!” het hulle uitgeroep. Nadat hulle die see oorgesteek het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan. Toe die plaaslike mense dit hoor, het hulle die nuus deur die hele omgewing versprei en al hulle siekes na Hom toe gebring. Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.