MALEAGI 1:6-14

MALEAGI 1:6-14 AFR83

'n Seun eer sy vader en 'n slaaf sy eienaar. As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? Dit is wat Ek, die Here die Almagtige, vir júlle vra, priesters, júlle wat My met minagting behandel. Maar julle vra: “Hoe het ons U met minagting behandel?” Julle bring onrein voedsel op my altaar, en dan vra julle: “Hoe het ons U te na gekom?” Julle doen dit wanneer julle dink: “Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word.” Wanneer julle 'n blinde ding bring om te offer, is dit dan nie verkeerd nie? En wanneer julle 'n siek of 'n lam ding bring, is dit nie verkeerd nie? Bring bietjie so iets vir jou goewerneur! Sal hy ingenome met jou wees of jou vriendelik ontvang? Dit is wat die Here die Almagtige sê. En dan sê julle: “Maak God dan tog nou goedgesind dat Hy ons genadig kan wees!” As julle só optree, sal Hy een van julle se versoek toestaan? Dit is wat die Here die Almagtige sê. Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie 'n offer van julle hê nie. Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, word Ek deur die nasies geëer. Oral word daar vir My offers gebring, rein offers. Ek word deur die ander nasies geëer, sê die Here die Almagtige, maar júlle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word. En dan sê julle nog dis 'n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here. Daar rus 'n vloek op elke skelm wat 'n bul of 'n ram in sy kudde het en 'n gelofte doen en dan 'n verminkte ding aan die Here offer! Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MALEAGI 1:6-14

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid