Maleagi 1:6-14

Maleagi 1:6-14 AFR20

“'n Seun respekteer 'n vader, en 'n dienaar sy heer. As Ek dan 'n vader is, waar is die respek wat My toekom? As Ek die Opperheer is, waar is die ontsag vir My?” Die HERE, Heerser oor alle magte, sê: “Dit geld vir julle, priesters, wat my Naam minag! Maar julle vra, ‘Hoe minag ons u Naam?’ Julle bied besoedelde voedsel aan op my altaar en dan vra julle nog, ‘Hoe het ons U verwerp?’ Omdat julle dink dat die tafel van die HERE maar geminag kan word! As julle 'n blinde dier as offer aanbied, is dit mos nie verkeerd nie, en as julle 'n mank of siek dier aanbied, is dit mos nie verkeerd nie! Bied so iets vir jou •streekgoewerneur aan! Sal hy jou aanvaar, sal hy goedgesind wees teenoor jou?” vra die HERE, Heerser oor alle magte. Sou julle God dan nou gunstig stem dat Hy ons genadig kan wees, terwyl julle so iets doen? Sal Hy deur júlle toedoen goedgesind wees? Die HERE, Heerser oor alle magte het dit gesê. “Was daar maar iemand onder julle wat die tempeldeure kon toesluit, sodat julle nie die vuur op my altaar verniet aan die brand steek nie. Ek is julle nie goedgesind nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “'n Offer uit julle hand is nie vir My aanvaarbaar nie. Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en 'n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle ontheilig my Naam aangesien julle dink, die tafel van die Heer is besoedel, en oor wat dit bied, dink julle, sy voedsel kan maar geminag word. En dan sê julle, ‘Kyk, watter moeite is dit nie!’ En julle skat dit gering, ” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Julle bring diere wat geroof en mank en siek is, en bied dit as 'n offergawe aan! Moet Ek dit uit julle hand aanvaar?” vra die HERE. “Vervloek is iemand wat bedrieg deur 'n gelofte af te lê, maar 'n verminkte dier aan die Heer offer, terwyl daar 'n manlike dier in sy kudde is. Ek is immers die groot Koning,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “en my Naam wek ontsag by die nasies. ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Maleagi 1:6-14

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid