LUKAS 8:42-48

LUKAS 8:42-48 AFR83

want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: “Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.” Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.” Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 8:42-48