LUKAS 8:42-48
LUKAS 8:42-48 Afrikaans 1983 (AFR83)
want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: “Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.” Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.” Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”
LUKAS 8:42-48 Bybel vir almal (ABA)
Jaïrus se enigste dogtertjie was baie siek, sy was naby haar dood. Sy was twaalf jaar oud. Jesus het na haar toe gegaan. Daar was so baie mense dat hulle teen Jesus gedruk het. Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om die dokters te betaal, maar niemand kon haar gesond maak nie. Die vrou het van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy het toe dadelik opgehou bloei. Jesus het gevra: “Wie het aan My geraak?” Almal het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. Petrus het gesê: “Here, hier is baie mense wat teen U druk.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My.” Die vrou het gesien Jesus weet van haar. Sy het gebewe en sy het nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.”
LUKAS 8:42-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring. En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het? Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.
LUKAS 8:42-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede! ”
LUKAS 8:42-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want hy het een enigste dogter gehad, omtrent twaalf jaar oud, en sy het op sterwende gelê. Maar terwyl hy gegaan het, het die mense hom saamgedrom. En 'n vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het, wat haar hele lewe aan geneeshere deurgebring het, en van niemand genees kon word nie, Hy het agter hom aangekom en die rand van sy kleed aangeraak, en dadelik het sy bloedvloeiing verdrink. En Jesus sê: Wie het My aangeraak? Toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat saam met hom was: Meester, die skare drom U en druk U, en U sê: Wie het My aangeraak? En Jesus sê: Iemand het My aangeraak, want ek sien dat deug uit My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie weggesteek is nie, het sy bewend gekom en voor hom neergeval en aan hom voor die hele volk vertel waarom sy hom aangeraak het en hoe sy dadelik genees is. En hy sê vir haar: Dogter, wees gerusstellend; jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
LUKAS 8:42-48 Die Boodskap (DB)
Hy het Jesus gesmeek om dadelik na sy huis toe te kom omdat sy twaalfjarige dogter op sterwe gelê het. Dit was sy enigste dogter. Jesus het ingestem, maar daar was so baie mense om Hom dat Hy skaars kon beweeg. Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie. Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond. Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.” Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.” “Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.” Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.” Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede.”
LUKAS 8:42-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend. Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring. Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.” Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. “Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.”