LEVITIKUS 15:19-33

LEVITIKUS 15:19-33 AFR83

“Met 'n normale menstruasie is 'n vrou sewe dae onrein. Enigiemand wat aan haar raak, is die res van die dag onrein. Enigiets waarop sy lê of sit gedurende die sewe dae, is onrein. Enige persoon wat aan haar bed raak of aan iets waarop sy gesit het, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. As iemand aan iets raak wat op haar bed lê of aan iets waarop sy gesit het, is hy ook die res van die dag onrein. As 'n man dit sou waag om met haar geslagsgemeenskap te hê, word haar onreinheid op hom oorgedra en is hyself ook sewe dae onrein. Enige bed waarop hy lê, is ook onrein. “As 'n vrou 'n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur. Net soos met menstruasie is enige bed waarop sy lê of enigiets waarop sy gedurende dié tyd sit, onrein. Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en hom bad en hy is die res van die dag onrein. Wanneer die bloedvloeiing ophou, moet sy sewe dae wag voordat sy rein verklaar kan word. Op die agste dag moet sy dan twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent van ontmoeting. Die priester moet die een as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer gebruik om vir haar versoening te doen by die Here oor die onreinheid wat deur die vloeiing veroorsaak is. “Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.” Die voorafgaande voorskrifte reël die geval wanneer 'n man 'n afskeiding of saadstorting het wat hom onrein maak, en wanneer 'n vrou menstrueer, dit wil sê enige geval van 'n afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou en ook wanneer 'n man met 'n onrein vrou geslagsgemeenskap het.