LEVITIKUS 15:19-33
LEVITIKUS 15:19-33 Bybel vir almal (ABA)
“Wanneer 'n vrou menstrueer, dan is sy sewe dae lank onrein. Elkeen wat aan haar raak, is onrein tot die aand. Enige iets waarop die vrou lê terwyl sy menstrueer, word onrein, en elke ding waarop sy sit, word onrein. Elkeen wat raak aan die bed of die stoel of iets waarop die vrou gesit het, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. Wanneer 'n man seks het met 'n vrou wat menstrueer, dan word hy ook onrein vir sewe dae, en elke bed waarop hy lê, word onrein. Wanneer daar bloed uit 'n vrou kom in 'n tyd wanneer sy nie menstrueer nie, of as die bloed aanhou uitkom nadat sy gemenstrueer het, dan is sy onrein so lank soos die bloed uitkom. Elke bed waarop sy lê en elke ding waarop sy sit, sal onrein word, soos wanneer sy menstrueer. Elkeen wat raak aan die bed of die ding waarop die vrou gesit het, sal onrein word, hy moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. Wanneer daar nie meer bloed uitkom nie, dan moet die vrou sewe dae wag, daarna kan sy rein word. Op die agste dag moet sy twee tortelduiwe of twee makduiwe bring vir die priester by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die priester moet die duiwe offer, een duif om 'n sonde-offer te wees en een duif om 'n brand-offer te wees. So moet hy versoening doen vir die vrou nadat sy onrein was. Julle moet keer sodat die Israeliete nie onrein word nie, en sodat hulle nie my tempel-tent wat by hulle is, onrein laat word nie. Want dan sal hulle moet sterf. Dit is wat moet gebeur wanneer daar saad of iets nat kom uit 'n man se geslagsorgaan en hy word dan onrein. Dit is wat moet gebeur wanneer 'n vrou menstrueer, wanneer daar iets nat kom uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou, en wanneer 'n man seks het met 'n vrou wat onrein is.”
LEVITIKUS 15:19-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En as 'n vrou 'n vloeiing het, en die vloeiing in haar vlees bloed is, dan bly sy sewe dae lank in haar onreinheid; en elkeen wat aan haar raak, sal tot die aand toe onrein wees. En alles waar sy in haar onreinheid op lê, sal onrein wees; en alles waar sy op sit, sal onrein wees. En elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en 'n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein. En elkeen wat raak aan enige voorwerp waar sy op sit, moet sy klere was en 'n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein; en as daar iets op die bed is of op die voorwerp waar sy op sit, as hy dit aanraak, sal hy tot die aand toe onrein wees. En as 'n man met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees; en elke bed waar hy op lê, sal onrein wees. En as 'n vrou lank 'n bloedvloeiing het, buiten die tyd van haar onreinheid, of as sy vloei oor die tyd van haar onreinheid, moet sy gedurende al die dae van haar onreine vloeiing wees soos in die dae van haar maandelikse onreinheid; sy is onrein. Elke bed waar sy gedurende al die dae van haar vloeiing op lê, sal vir haar soos die bed van haar maandelikse onreinheid wees; en alles waar sy op sit, sal net so onrein wees soos iets wat deur haar maandelikse onreinheid verontreinig is. En elkeen wat aan hierdie dinge raak, sal onrein wees: dié een moet sy klere was en 'n bad neem en bly tot die aand toe onrein. Maar as sy van haar vloeiing rein geword het, moet sy sewe dae tel, en daarna sal sy rein wees. En op die agtste dag moet sy vir haar twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en dié by die ingang van die tent van samekoms na die priester bring. Dan moet die priester die een as sondoffer en die ander as brandoffer berei; en die priester moet vanweë haar onreine vloeiing vir haar versoening doen voor die aangesig van die HERE. So moet julle dan die kinders van Israel van hulle onreinheid afsonder, dat hulle nie deur hulle onreinheid sterwe nie — deurdat hulle my tabernakel wat in hulle midde is, verontreinig. Dit is die wet vir hom wat 'n vloeiing het en vir hom van wie 'n saadvloeiing uitgaan, sodat hy daardeur onrein word; en vir die vrou wat deur haar onreinheid onwel is, en vir die een wat aan 'n vloeiing ly, man of vrou, en vir 'n man wat met 'n onrein vrou gemeenskap het.
LEVITIKUS 15:19-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Met 'n normale menstruasie is 'n vrou sewe dae onrein. Enigiemand wat aan haar raak, is die res van die dag onrein. Enigiets waarop sy lê of sit gedurende die sewe dae, is onrein. Enige persoon wat aan haar bed raak of aan iets waarop sy gesit het, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. As iemand aan iets raak wat op haar bed lê of aan iets waarop sy gesit het, is hy ook die res van die dag onrein. As 'n man dit sou waag om met haar geslagsgemeenskap te hê, word haar onreinheid op hom oorgedra en is hyself ook sewe dae onrein. Enige bed waarop hy lê, is ook onrein. “As 'n vrou 'n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur. Net soos met menstruasie is enige bed waarop sy lê of enigiets waarop sy gedurende dié tyd sit, onrein. Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en hom bad en hy is die res van die dag onrein. Wanneer die bloedvloeiing ophou, moet sy sewe dae wag voordat sy rein verklaar kan word. Op die agste dag moet sy dan twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent van ontmoeting. Die priester moet die een as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer gebruik om vir haar versoening te doen by die Here oor die onreinheid wat deur die vloeiing veroorsaak is. “Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.” Die voorafgaande voorskrifte reël die geval wanneer 'n man 'n afskeiding of saadstorting het wat hom onrein maak, en wanneer 'n vrou menstrueer, dit wil sê enige geval van 'n afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou en ook wanneer 'n man met 'n onrein vrou geslagsgemeenskap het.
LEVITIKUS 15:19-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ Wanneer 'n vrou 'n afskeiding het en die afskeiding is bloed uit haar liggaam, is die tydperk van haar onreinheid sewe dae. Elkeen wat aan haar raak, is onrein tot die aand. Enigiets waarop sy gedurende die tydperk van haar onreinheid lê, is onrein en enigiets waarop sy sit, is onrein. Elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Elkeen wat aan enigiets raak waarop sy gesit het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. As hy raak aan iets wat op die bed is, of aan enigiets waarop sy sit, is hy onrein tot die aand. As 'n man tog met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees. Enige bed waarop hy lê, sal ook onrein wees. “ ‘Indien dit sou gebeur dat 'n vrou buite die tyd van haar menstruasie vir 'n lang tyd bloei of dat sy langer as haar menstruasie bloei, is sy onrein vir die duur van haar onrein afskeiding soos wanneer sy menstrueer: Sy is onrein. Enige bed waarop sy gedurende haar afskeiding lê, is soos die bed waarop sy tydens haar menstruasie lê, en enigiets waarop sy sit, is ook onrein soos wat dit sou wees tydens die onreinheid van haar menstruasie. Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Indien sy skoon is van haar afskeiding, moet sy self sewe dae aftel. Daarna is sy rein. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en hulle na die priester by die ingang van die Tent van Ontmoeting bring. Die priester moet die een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer bring. So doen die priester voor die HERE vir haar versoening vir haar onrein afskeiding.’ “Hou die Israeliete weg van dit wat hulle onrein maak, sodat hulle nie deur hulle onreinheid sterf wanneer hulle my •tabernakel wat in hulle midde staan, onrein maak nie. “Dit is die voorskrifte vir 'n man wat 'n afskeiding het en wat saad stort en daardeur onrein word, vir 'n vrou wat ongesteld is tydens menstruasie, vir 'n man of vrou met 'n afskeiding, en vir 'n man wat by 'n onrein vrou slaap.”
LEVITIKUS 15:19-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En as 'n vrou 'n vloeiing het, en haar vloeiing in haar vlees bloed is, moet sy sewe dae lank afgesonder word; en elkeen wat aan haar raak, sal tot die aand toe onrein wees. En alles waarop sy in haar skeiding lê, sal onrein wees; ook alles waarop sy sit, sal onrein wees. En elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en hom in die water bad en tot die aand toe onrein wees. En elkeen wat aan iets raak waarop sy sit, moet sy klere was en hom in die water bad en tot die aand toe onrein wees. En as dit op haar bed is of op enigiets waarop sy sit, as hy daaraan raak, sal hy tot die aand toe onrein wees. En as iemand enigsins by haar gemeenskap het en haar blomme op hom is, sal hy sewe dae lank onrein wees; en die hele bed waarop hy lê, sal onrein wees. En as 'n vrou 'n vloeiing van haar bloed het baie dae uit die tyd van haar skeiding, of as dit verby die tyd van haar skeiding loop; al die dae van die vloeiing van haar onreinheid moet wees soos die dae van haar skeiding; sy sal onrein wees. Elke bed waar sy al die dae van haar vloeiing op lê, sal vir haar wees soos die bed van haar skeiding; en alles waarop sy sit, sal onrein wees soos die onreinheid van haar skeiding. En elkeen wat aan hierdie dinge raak, sal onrein wees en sy klere was en hom in die water bad en onrein wees tot die aand toe. Maar as sy van haar vloeiing gereinig word, moet sy vir haar sewe dae tel, en daarna sal sy rein wees. En op die agtste dag moet sy vir haar twee skilpaaie of twee jong duiwe neem en dit na die priester bring by die ingang van die tent van samekoms. En die priester moet die een as sondoffer en die ander as brandoffer berei; en die priester moet vir haar versoening doen voor die aangesig van die HERE vir die vloeiing van haar onreinheid. So moet julle die kinders van Israel van hulle onreinheid afsonder; dat hulle nie in hul onreinheid sterwe as hulle my tent wat onder hulle is, verontreinig nie. Dit is die wet van hom wat 'n vloeiing het, en van hom wie se nageslag van hom uitgaan en daarmee verontreinig word; En van haar wat siek is van haar blomme en van hom wat 'n vloeiing het, van die man en van die vrou en van hom wat met haar gemeenskap het wat onrein is.
LEVITIKUS 15:19-33 Die Boodskap (DB)
“Wanneer ’n vrou menstrueer, mag sy vir sewe dae nie by die Here se tent kom nie. As iemand aan haar raak, mag hy ook nie by die Here se tent kom vir die res van die dag nie. Enigiets waarop sy slaap of waarop sy sit terwyl sy menstrueer, kan nie verder gebruik word nie. Enigeen wat aan die bed raak waarop sy slaap of aan iets vat waarop sy gesit het, moet sy klere en homself gaan was. Hy mag self vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie. Selfs al vat hy net aan iets wat op haar bed of haar stoel gelê het, mag hy nie naby die Here kom nie. As ’n man gedurende haar maandstonde by haar slaap, affekteer dit hom ook en mag hy vir sewe dae nie naby die Here se tent kom nie. Selfs die bed waarop hy dan slaap, word ook onbruikbaar. “As ’n vrou ongereeld is en buite haar gewone tyd menstrueer, of dit hou tydens die normale tyd buitengewoon lank aan, is sy vir hierdie tyd ook uitgesluit. Soos tydens haar menstruasie is enige bed waarop sy lê en enige stoel waarop sy sit, in hierdie tyd ook onbruikbaar. Enigeen wat daaraan vat, moet wegbly van die Here se tent. Hy moet sy klere en homself gaan was. Hy mag vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie. “Sodra sy ophou bloei, moet sy sewe dae aftel. Daarna kan sy weer by God se tent kom. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of enige ander duiwe saamvat na die ingang van die tent waar God hulle ontmoet. Die dienaar slag een duif vir die sonde en die ander een verbrand hy op die altaar. So help hy haar om weer voor die Here te kan kom nadat sy vir die tyd van haar menstruasie nie daar welkom was nie.” “Julle moet die Israeliete waarsku teen hierdie dinge wat hulle van My af weghou sodat hulle nie sommer daar by my tent in die middel van die kamp kom en Ek hulle laat doodgaan nie. Dit is dan die reëls vir ’n man wat nie naby die tent mag kom nie, omdat daar afskeiding uit sy geslagsorgaan was of omdat hy saad gestort het, vir ’n vrou wat menstrueer, vir ’n man of vrou by wie daar onreëlmatige afskeiding is en vir ’n man wat by ’n vrou geslaap het wat menstrueer.”
LEVITIKUS 15:19-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wanneer ’n vrou menstrueer, is sy vir sewe dae lank onrein. As jy aan haar raak gedurende dié tyd, is jy onrein tot die aand toe. Enigiets waarop sy gedurende dié tyd lê of sit, sal onrein wees. As jy aan haar bed raak, moet jy jou klere was en bad in water en sal jy tot die aand toe onrein bly. Dieselfde reëling geld wanneer jy aan iets raak waarop sy gesit het, of dit nou haar bed is of enige ander meubelstuk. As ’n man gedurende dié tyd seksuele omgang met haar het, word haar menstruele onreinheid op hom oorgedra. Hy is dan onrein vir sewe dae en enige bed waarop hy lê, sal onrein wees. “As die menstruele bloedvloeiing vir baie meer dae aanhou as wat normaalweg die geval is, of as daar ’n afskeiding van bloed buite haar menstruasieperiode is, is so ’n vrou onrein so lank as wat die afskeiding aanhou. Enigiets waarop sy lê of sit gedurende dié tyd, sal onrein wees, net soos in die geval van haar normale menstruasieperiode. As jy raak aan haar bed of enigiets waarop sy sit, sal jy onrein wees. Jy sal jou klere moet was en in water bad en jy sal onrein wees tot die aand toe. “As ’n vrou se menstruele afskeiding ophou, moet sy sewe dae lank wag. Daarna sal sy rein wees. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring en dit vir die priester by die ingang van die tent van ontmoeting gee. Die priester sal dan een as ’n sonde-offer en die ander een as ’n hele brandoffer bring. Op dié manier sal die priester in die teen-woordigheid van die HERE versoening doen vir haar menstruele afskeiding. “Op dié manier sal jy die volk Israel afsonder van dinge wat hulle onrein maak sodat hulle nie sal sterf omdat hulle my tent van ontmoeting hier in hulle midde verontreinig het nie. Dit is die instruksies wat geld vir ’n man met ’n afskeiding uit die geslagsorgaan of ’n saadstorting, vir ’n vrou wat menstrueer, vir enigiemand, man of vrou, wat enige soort liggaamlike afskeiding het en ook vir die man wat seksuele omgang het met ’n vrou wat menstrueer.”