Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Sê vir die Israeliete: Enige abnormale afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man is onrein. Hy is self ook onrein solank die afskeiding duur. Of dit nou 'n aanhoudende of 'n periodieke afskeiding is, dit maak hom onrein. 'n Bed waarop so iemand lê, of enigiets waarop hy sit, word onrein. Enigiemand wat aan die bed raak, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. Wanneer iemand op iets sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. Wanneer iemand raak aan 'n man wat 'n afskeiding het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. Wanneer 'n man met 'n afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet die persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. Enige saal waarop die man ry wat die afskeiding het, is onrein, en elkeen wat aan iets raak waarop die man gesit het, is die res van die dag onrein. Enigiemand wat iets optel waarop die man gesit het wat die afskeiding het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein. Enigiemand aan wie 'n man met 'n afskeiding raak sonder dat hy sy hande eers afgespoel het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein. Alle kleipotte waaraan die man raak wat die afskeiding het, moet gebreek word, maar gebruiksartikels van hout moet afgespoel word. “As 'n man wat 'n afskeiding het, gesond word, moet hy sewe dae wag voordat hy rein verklaar kan word. Hy moet sy klere was en hom in lopende water bad. Daarna is hy rein. Op die agste dag moet hy met twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan en hulle in die teenwoordigheid van die Here vir die priester gee. Die priester moet die een vir 'n sondeoffer en die ander vir 'n brandoffer gebruik om vir die man wat die afskeiding gehad het, versoening te doen by die Here. “As 'n man 'n normale saadafskeiding het, moet hy hom bad. Hy is die res van die dag onrein. Enige linne of leer waarop die saad kom, moet ook gewas word en is die res van die dag onrein. Wanneer 'n man en 'n vrou geslagtelike omgang gehad het, moet altwee bad. Hulle is die res van die dag onrein.
Lees LEVITIKUS 15
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: LEVITIKUS 15:1-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's