Levitikus 15:1-18

Levitikus 15:1-18 AFR20

Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer vog by enige man se geslagsorgaan uitvloei, is dit •onrein, en dit maak hom ook onrein solank die afskeiding duur. Of die afskeiding nou by sy geslagsorgaan uitvloei, en of sy geslagsorgaan verstop raak vanweë die afskeiding, dit maak hom onrein. Elke bed waarop die man met 'n afskeiding lê, word onrein en enigiets waarop hy sit, word onrein. Iemand wat aan sy bed raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Iemand wat op 'n voorwerp sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Iemand wat aan die man met die afskeiding raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Wanneer die man met die afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet daardie persoon sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Enige saal waarop die man met die afskeiding ry, is onrein, en elkeen wat raak aan iets wat onder hom was, is tot die aand onrein. Iemand wat dit optel, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Elkeen aan wie die man met die afskeiding raak sonder dat hy sy hande gewas het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 'n Kleipot waaraan die man met die afskeiding raak, moet gebreek word, en elke houtvoorwerp moet met water afgespoel word. “ ‘Wanneer die man met die afskeiding skoon is van sy afskeiding, moet hy self sewe dae vir sy reiniging aftel. Hy moet sy klere was en sy liggaam met lopende water afspoel. Dan is hy rein. Op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en wanneer hy voor die HERE by die ingang van die •Tent van Ontmoeting aankom, moet hy dit vir die priester gee. Die priester moet dit offer, die een as 'n •reinigingsoffer en die ander as 'n •brandoffer. Die priester moet voor die HERE vir hom versoening doen vir sy afskeiding. “ ‘ Wanneer 'n man 'n saadstorting het, moet hy sy hele liggaam met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Enige kledingstuk en enige leervoorwerp waarop daar saad is, moet met water afgespoel word en sal tot die aand onrein wees. Wanneer 'n man met 'n vrou gemeenskap het en saad stort, moet hulle hulle met water afspoel. Hulle is onrein tot die aand.