Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek.
Hy het gesê:
“Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie,
die nag toe gesê is 'n seuntjie het in die wêreld gekom.
Daardie dag moes net donkerte gewees het;
God daarbo moes dit nie eens raakgesien het nie;
geen lig moes dié dag deurgebreek het nie.
Donkerte en duisternis moes dit opgeëis het,
wolke moes daaroor toegetrek het,
sonsverduistering moes dit oorval het.
Die donkerte moes daardie nag ingesluk het,
dit moes nooit ingereken gewees het
by die dae van die jaar nie,
dit moes nooit bygevoeg gewees het
by die berekening van die maande nie.
“Ja, daardie nag moes niemand gebore gewees het nie,
daar moes geen blydskap gewees het nie.
Wie dae vervloek, moes ook dié dag vervloek het,
hulle moes die Leviatan aangehits het om dit te vernietig.
Die môrester moes verduister gewees het,
hy moes tevergeefs gewag het op die lig
en nooit die dag sien breek het nie,
want hy het nie gekeer dat ek gebore word nie,
my hierdie smart nie gespaar nie.
Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie,
net toe ek gebore is, my laaste asem uitgeblaas nie?
Waarom was daar knieë om my op neer te sit,
borste om my te voed?
Anders kon ek nou stil in die graf gelê het,
rustig in die dood geslaap het
saam met konings en hulle raadgewers
wat puinhope herbou het,
of saam met vorste wat goud besit het,
wat hulle huise vol silwer gemaak het.
“Waarom was ek nie maar 'n misgeboorte
wat sonder meer begrawe is nie,
'n doodgebore kind wat nooit die daglig gesien het nie?
Dan sou ek daar gewees het
waar die goddeloses nie meer kwaad stook nie,
waar dié wat gedaan is, rus vind,
waar die gevangenes saam rus geniet
en nie meer die stem van die slawedrywer hoor nie;
daar waar klein en groot saam is,
waar die slaaf vry is van sy eienaar.
“Waarom moes God dan die lewenslig gee
aan 'n man wat net swaar kry,
waarom moes Hy lewe gee aan 'n man wat so bitter ly,
aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood,
wat daarna soek soos na 'n verborge skat,
wat maar te bly sou wees om in 'n graf te kom
en daaroor sou jubel?
“Waarom die lewenslig gee aan 'n man
wat vir hom geen pad vorentoe sien nie,
'n man vir wie God van alles afgesny het?
“Ek kan nie eet van die pyn nie,
ek kan nie ophou kreun nie.
Wat ek gevrees het, het oor my gekom;
waarvoor ek bang was, het my getref.
Ek het geen rus en geen vrede nie,
geen verposing nie, net angs.”