JOB 3:1-26

JOB 3:1-26 Bybel vir almal (ABA)

Ná die sewe dae het Job begin praat. Hy het die dag vervloek toe hy gebore is. Job het gesê: “Ek wens die dag was nooit daar nie, die dag toe ek gebore is. Ek wens die nag was nooit daar nie, die nag toe iemand gesê het daar is 'n seun gebore. Ek wens daardie dag het donker gebly, God daarbo moes nie daardie dag vir my gegee het nie, daar moes nie lig geskyn het op daardie dag nie. Daardie dag moes donker gebly het, baie donker, wolke moes dit toegemaak het, die son moes donker gebly het. Daardie nag moes donker gebly het, dit moes nie een van die dae van die jaar geword het nie, dit moes nie een van die dae in 'n maand geword het nie. Daardie nag moes die laaste nag gewees het, niemand moes toe bly gewees het nie. Die mense wat dae vervloek, die mense wat weet hoe om die Leviatan wakker te maak, hulle moes ook daardie dag vervloek het. Die sterre wat vroeg die oggend begin skyn het, moes donker gebly het. Dit moes nie lig geword het toe die nag gewag het vir die lig van die vroeë oggend nie. Hoekom? Want die nag het nie gekeer dat ek gebore word en begin het om swaar te kry nie. Hoekom het ek nie gesterf voordat ek gebore is nie? Of hoekom het ek nie dadelik gesterf nadat ek gebore is nie? Hoekom het my ma my op haar knieë gesit en my laat drink? As dit nie gebeur het nie, dan het ek stil in die graf gelê, dan het ek geslaap en gerus saam met die konings en die slim mense van die aarde, die mense wat vir hulleself stede gebou het van hope klippe. Dan het ek geslaap en gerus saam met die belangrike mense wat goud en huise vol silwer gehad het, of ek sou glad nie daar gewees het nie, soos 'n baba wat doodgebore is en wat iemand weggesteek het, soos 'n kind wat nooit die lig gesien het nie. Daar in die doderyk kan die mense wat verkeerd doen, nie meer probleme maak nie, daar rus almal wat moeg is. Daar kan die gevangenes rustig en stil wees, die voormanne raas nie meer met hulle nie. Daar is kinders en grootmense saam, en slawe is daar vry van hulle eienaars. Hoekom het God lig gegee vir iemand wat net swaarkry? Hoekom het Hy iemand laat lewe wat altyd ongelukkig is, iemand wat wens dat hy sterf, maar die dood kom nie? Hoekom laat God iemand lewe wat graag wil sterf en wat nie wil soek na kosbare goed nie, iemand wat baie bly sal wees wanneer hy in die graf kan gaan lê? Hoekom laat God iemand lewe wat nie weet wat met hom sal gebeur nie omdat God hom afgesny het van alles? Ek kan nie eet nie, ek hou aan om te sug en te kla, want ek was bang vir baie dinge, en dit alles het gebeur met my. Ek kan nie stil en rustig wees nie, ek kan nie rus nie, ek hou aan om bekommerd te wees.”

JOB 3:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek. En Job het begin en gesê: Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, en die nag wat gesê het: 'n Seun is ontvang. Mag dié dag duisternis wees; mag God nie na hom vra daarbo nie en geen ligglans oor hom skyn nie. Mag duisternis en doodskaduwee hom opeis, 'n wolkgevaarte oor hom gaan lê, dagverduisteringe hom verskrik. Daardie nag — mag donkerheid hom wegruk, mag hy nie bly wees onder die dae van die jaar, in die getal van die maande nie kom nie. Ja, mag dié nag onvrugbaar wees, geen gejubel tot hom deurdring nie. Mag die dagvervloekers hom verwens, hulle wat die kuns verstaan om die Leviátan op te hits. Mag die sterre van sy môreskemering verduister word; mag hy wag op lig, maar tevergeefs, en die ooglede van die dageraad nie sien nie. Omdat hy vir my nie toegesluit het die deure van die moederskoot nie en moeite vir my oë nie verberg het nie. Waarom het ek nie gesterf by die geboorte, nie uitgegaan uit die moederskoot en die asem uitgeblaas nie? Waarom het knieë my teëgekom, en waarom borste, dat ek moes drink? Want dan sou ek daar gelê en stil gewees het; ek sou geslaap, ek sou dan rus gehad het, saam met konings en raadsmanne van die aarde, wat puinhope weer opgebou het vir hulleself; of saam met vorste wat goud besit, wat hulle huise met silwer gevul het. Of ek sou, soos 'n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie. Daar hou die goddelose op met woel, en daar rus hulle wie se kragte uitgeput is. Die gevangenes is almal saam gerus; hulle hoor die stem van die drywer nie. Klein en groot is daar gelyk, en die slaaf is vry van sy heer. WAAROM gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel; wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte; wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind? Waarom gee Hy lig aan 'n man wie se weg verborge is, 'n man wat deur God aan alle kante ingesluit is? Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water. As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe. Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!

JOB 3:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek. Hy het gesê: “Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie, die nag toe gesê is 'n seuntjie het in die wêreld gekom. Daardie dag moes net donkerte gewees het; God daarbo moes dit nie eens raakgesien het nie; geen lig moes dié dag deurgebreek het nie. Donkerte en duisternis moes dit opgeëis het, wolke moes daaroor toegetrek het, sonsverduistering moes dit oorval het. Die donkerte moes daardie nag ingesluk het, dit moes nooit ingereken gewees het by die dae van die jaar nie, dit moes nooit bygevoeg gewees het by die berekening van die maande nie. “Ja, daardie nag moes niemand gebore gewees het nie, daar moes geen blydskap gewees het nie. Wie dae vervloek, moes ook dié dag vervloek het, hulle moes die Leviatan aangehits het om dit te vernietig. Die môrester moes verduister gewees het, hy moes tevergeefs gewag het op die lig en nooit die dag sien breek het nie, want hy het nie gekeer dat ek gebore word nie, my hierdie smart nie gespaar nie. Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie, net toe ek gebore is, my laaste asem uitgeblaas nie? Waarom was daar knieë om my op neer te sit, borste om my te voed? Anders kon ek nou stil in die graf gelê het, rustig in die dood geslaap het saam met konings en hulle raadgewers wat puinhope herbou het, of saam met vorste wat goud besit het, wat hulle huise vol silwer gemaak het. “Waarom was ek nie maar 'n misgeboorte wat sonder meer begrawe is nie, 'n doodgebore kind wat nooit die daglig gesien het nie? Dan sou ek daar gewees het waar die goddeloses nie meer kwaad stook nie, waar dié wat gedaan is, rus vind, waar die gevangenes saam rus geniet en nie meer die stem van die slawedrywer hoor nie; daar waar klein en groot saam is, waar die slaaf vry is van sy eienaar. “Waarom moes God dan die lewenslig gee aan 'n man wat net swaar kry, waarom moes Hy lewe gee aan 'n man wat so bitter ly, aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood, wat daarna soek soos na 'n verborge skat, wat maar te bly sou wees om in 'n graf te kom en daaroor sou jubel? “Waarom die lewenslig gee aan 'n man wat vir hom geen pad vorentoe sien nie, 'n man vir wie God van alles afgesny het? “Ek kan nie eet van die pyn nie, ek kan nie ophou kreun nie. Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref. Ek het geen rus en geen vrede nie, geen verposing nie, net angs.”

JOB 3:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy geboortedag vervloek. Job het toe begin praat en gesê: “ Mag die dag waarop ek gebore is, vergaan, en die nag wat gesê het, ‘'n Seun is verwek.’ Daardie dag – mag dit donker wees; mag God daar bo nie daarna vra nie, mag 'n ligglans nie daaroor skyn nie. Mag donker, ja, stikdonkerte dit opeis, mag wolke daarop toesak; mag 'n verduistering van die dag dit verskrik. Daardie nag – mag 'n diepe duisternis dit in besit neem; mag dit nie verskyn onder die dae van 'n jaar nie, nie in die getal van die maande voorkom nie. Juis daardie nag – mag dit onvrugbaar wees, mag uitroepe van vreugde nie daarin opklink nie. Mag hulle wat dae vervloek, dit verdoem, hulle wat die kuns verstaan om Leviatan wakker te maak. Mag die sterre van dié dag se oggendskemering verduister, mag dit wag op lig, en daar is niks nie; mag dit die wimpers van die dagbreek nie sien nie, omdat dit die deure van my moeder se skoot nie gesluit het nie, nie teenspoed vir my oë verberg het nie. “ Waarom is ek nie dood by geboorte nie? Waarom het ek nie gesterf toe ek uit die moederskoot gekom het nie? Hoekom het knieë my ontvang; hoekom was daar borste, dat ek kon drink? Ja, anders sou ek nou kon lê en in vrede rus, ek sou kon slaap. Daar sou vir my rus wees by konings en die raadsmanne van die wêreld, dié wat vir hulleself puinhope herbou het, of by •hoë amptenare wat goud besit het, wat hulle huise met silwer gevul het. Of soos 'n weggesteekte misgeboorte, sou ek nie bestaan het nie, soos kinders wat nie die lig gesien het nie. Daar hou goddeloses op met die gewerskaf; daar vind dié wie se kragte uitgeput is, rus. Gevangenes is saam kommervry, hulle hoor nie meer die stem van die slawedrywer nie. Klein en groot is daar, die slaaf is vry van sy baas. “ Waarom gee God die lig aan iemand wat hom moet afsloof? Waarom gee Hy die lewe aan mense met verbitterde siele, wat wag vir die dood, maar dit kom nie; hulle wat dieper daarna delf as na verborge skatte; hulle wat van vreugde juig, wat hulle verheug wanneer hulle die graf vind. Waarom gee Hy die lewe aan 'n man wie se pad verborge is, vir wie God aan alle kante afgesper het? Ja, nog voor my brood, daag my gesug op; my geskreeu stroom soos water. As ek vrees vir 'n verskrikking, dan kom dit my oor; dit waarvoor ek bang is, oorval my. Ek kan nie rus vind nie, nie tot rus kom nie; ek kry geen verposing nie. Die onrus daag telkens op.”

JOB 3:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hierna het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek. En Job het gespreek en gesê: Laat die dag vergaan waarin ek gebore is, en die nag waarin gesê is: Daar is 'n manlike kind verwek. Laat daardie dag duisternis wees; laat God dit nie van bo sien nie, en laat die lig nie daarop skyn nie. Laat duisternis en doodskaduwee dit bevlek; laat 'n wolk daarop woon; laat die donkerte van die dag dit verskrik. Wat daardie nag betref, laat die duisternis hom oorval; laat dit nie saamhang met die dae van die jaar nie, laat dit nie in die getal van die maande kom nie. Kyk, laat daardie nag alleen wees, laat geen vrolike stem daarin kom nie. Laat hulle dit vervloek wat die dag vervloek, wat gereed is om hul rou te wek. Laat die sterre van die skemer daarvan donker wees; laat dit lig soek, maar het geen; laat dit ook nie die aanbreek van die dag sien nie: Omdat dit die deure van my moeder se skoot nie toegesluit het nie en droefheid nie vir my oë verberg het nie. Waarom het ek nie van die moederskoot af gesterf nie? hoekom het ek nie die gees opgegee toe ek uit die maag kom nie? Waarom het die knieë my verhinder? of waarom die borste wat ek moet suig? Want nou sou ek stil gelê en stil gewees het, sou ek geslaap het; as ek dan gerus was, Met konings en raadgewers van die aarde wat vir hulle verlate plekke gebou het; Of met vorste wat goud gehad het, wat hulle huise met silwer gevul het; Of as 'n verborge ontydige geboorte was ek nie gewees nie; as babas wat nooit lig gesien het nie. Daar hou die goddelose op om te bekommer; en daar rus die vermoeide. Daar rus die gevangenes saam; hulle hoor nie die stem van die verdrukker nie. Klein en groot is daar; en die dienskneg is vry van sy heer. Daarom word lig gegee aan hom wat in ellende is, en lewe aan die bitter van siel; wat smag na die dood, maar dit kom nie; en grawe daarvoor meer as na verborge skatte; wat uitermate bly is en bly is as hulle die graf kan vind? Waarom word lig gegee aan 'n man wie se weg verborge is en vir wie God verskans het? Want my gesug kom voor ek eet, en my gebrul word uitgestort soos die waters. Want die ding waarvoor ek baie gevrees het, het oor my gekom, en waarvoor ek bang was, het na my gekom. Ek was nie veilig nie, en ek het nie gerus en nie stil nie; tog het moeilikheid gekom.

JOB 3:1-26 Die Boodskap (DB)

Toe Job uiteindelik begin praat, wou hy weet hoekom hy ooit gebore is. Hy het gesê: “Ek moes nooit gebore gewees het nie. Ek moes nooit eens begin bestaan het nie. Die dag wat my lewe begin het, is ’n swart dag. God moet Hom nie eens aan dié dag steur nie. Nie eers ’n skrefie lig moet maak dat mense weet van so ’n dag nie. Laat donkerte my geboortedag insluk. Laat donker wolke dit toemaak. Die donkerte moet die lig wegdryf. Die nag wat my lewe begin het, moet so verdwyn asof daar nooit eers so ’n nag bestaan het nie. Dit moet wees asof daar nooit so ’n dag in ’n spesifieke jaar of maand was nie. Die dag moet nie eers getel word nie. Dit sou beter gewees het as ek nooit daardie nag gebore is nie. Niemand moes bly gewees het omdat ek gebore is nie. Daar is mense wat weet hoe om vloeke uit te roep. Hulle is die mense wat ook weet hoe om die seemonster op te roep. Laat hulle my geboorte vervloek! Mag die môrester glad nie skyn nie. Mag daar niks kom van die hoop dat die dagbreek na die nag sal kom nie. Dit is ’n groot jammerte dat ek daardie nag gebore is. Nou sit ek met hierdie groot ellende in my lewe.” Job het verder gegaan en gesê: “Hoekom is ek nie doodgebore nie? Hoekom het my ma my laat lewe en my versorg? Hoekom het sy my melk gegee om te kon lewe? As ek by my geboorte dood is, sou ek nou geslaap het. Ek sou rus en vrede gehad het. Ek sou nou saam met belangrike mense soos konings en beroemde leiers gerus het. Ek sou gerus het saam met ryk prinse wat huise gehad het met baie goud en silwer in. Hoekom was ek nie maar ’n miskraam nie? Dan het ek nooit eers begin lewe nie. Slegte mense hou op om kwaad te doen as hulle dood is en moeë mense kry kans om te rus. Selfs mense wat gevangenes is, ontspan as hulle dood is. Die bewaarder verskree hulle nie daar nie. Daar is ryk en arm mense gelyk. Daar is ’n werker vry van sy baas. “Hoekom laat die Here mense lewe wat swaarkry? Hoekom lewe mense wat verbitterd is? Hulle wens hulle kan doodgaan, maar dit gebeur nie. Hulle wil so graag doodgaan dat dit erger is as iemand wat fanaties na ’n skat soek. Hulle kan nie aan iets dink wat hulle blyer sal maak as om dood en begrawe te wees nie. Hoekom moet ’n mens lewe as dit lyk of daar nie ’n toekoms is nie en jy deur God van alles afgesny is? Ek sug so baie, dit is soos my kos wat ek eet. Ek leef daarvan. My gekla is soos water wat net aanhou loop. Die dinge wat ek nog altyd voor bang was, het nou met my gebeur. Ek het nie kalmte en vrede nie. In plaas daarvan dat ek rustig voel, loop alles net verkeerd.”

JOB 3:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ten einde laaste het Job begin praat. Hy het die dag waarop hy gebore is, vervloek. Hy het gesê: “As my geboortedag tog nooit aangebreek het nie, en die nag toe daar gesê is: ‘’n Seun is gebore.’ As daardie dag tog donker gebly het en God daarbo dit nie raakgesien het nie, en geen lig daardie dag geskyn het nie! Mag duisternis en donkerte dit weer opeis en ’n wolk dit oorskadu. Mag donkerte die dag verskrik. Mag diep duisternis daardie nag wegneem. Mag dit nooit getel word as ’n dag in die jaar nie. Mag dit nie tussen die maande verskyn nie. Mag daardie nag onvrugbaar gebly het. Mag dit vir niemand enige vreugde bring nie. “Mag mense wat dae vervloek, ook hierdie dag vervloek, so ook die mense wat die seemonster kan oproep. Die sterre van daardie oggend moes verduister gewees het. Die dag moes tevergeefs gewag het op lig en nie die dag sien breek het nie. Want dit het nie verhoed dat ek gebore word nie, het nie smart vir my weggesteek nie. “Hoekom het ek nie by geboorte gesterf en omgekom terwyl ek gebore is nie? Hoekom was daar ’n skoot om my op neer te sit, twee borste waaraan ek kon drink? Want dan sou ek in vrede in die graf kon lê, en rustig in die dood geslaap het saam met konings en raadgewers van die aarde wat puinhope herbou het, met vorste wat goud besit het en huise vol silwer. Hoekom is ek nie maar in die grond weggesteek soos ’n misgeboorte, soos ’n doodgebore kind wat nie die daglig gesien het nie? Daar staak die goddeloses die onrus, en daar kan die vermoeides rus. Gevangenes geniet hulle rus, hulle hoor nie die stem van die slawedrywer nie. Daar is geringes en vernames gelyk, en die slaaf is vry van sy baas. “Hoekom gee God lig aan mense wat moeg is, lewe vir dié wat verbitterd is? Hulle wens dat hulle kan doodgaan, maar die dood ontwyk hulle. Hulle soek die dood eerder as verborge skatte. As hulle uiteindelik doodgaan, is dit vir hulle ’n groot verligting en vreugde. Hoekom moet mense wat niks van die toekoms verwag nie, aanhou lewe, mense vir wie God aan swaarkry oorgegee het? Versugting is my voedsel, my kreune word uitgegiet soos water. Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom. Dit waarvoor ek bang was, het nou met my gebeur. Ek ken geen rus en vrede nie. Daar is vir my geen blaaskans meer nie, net moeilikheid.”