Job 3:1-26

Job 3:1-26 DB

Toe Job uiteindelik begin praat, wou hy weet hoekom hy ooit gebore is. Hy het gesê: “Ek moes nooit gebore gewees het nie. Ek moes nooit eens begin bestaan het nie. Die dag wat my lewe begin het, is ’n swart dag. God moet Hom nie eens aan dié dag steur nie. Nie eers ’n skrefie lig moet maak dat mense weet van so ’n dag nie. Laat donkerte my geboortedag insluk. Laat donker wolke dit toemaak. Die donkerte moet die lig wegdryf. Die nag wat my lewe begin het, moet so verdwyn asof daar nooit eers so ’n nag bestaan het nie. Dit moet wees asof daar nooit so ’n dag in ’n spesifieke jaar of maand was nie. Die dag moet nie eers getel word nie. Dit sou beter gewees het as ek nooit daardie nag gebore is nie. Niemand moes bly gewees het omdat ek gebore is nie. Daar is mense wat weet hoe om vloeke uit te roep. Hulle is die mense wat ook weet hoe om die seemonster op te roep. Laat hulle my geboorte vervloek! Mag die môrester glad nie skyn nie. Mag daar niks kom van die hoop dat die dagbreek na die nag sal kom nie. Dit is ’n groot jammerte dat ek daardie nag gebore is. Nou sit ek met hierdie groot ellende in my lewe.” Job het verder gegaan en gesê: “Hoekom is ek nie doodgebore nie? Hoekom het my ma my laat lewe en my versorg? Hoekom het sy my melk gegee om te kon lewe? As ek by my geboorte dood is, sou ek nou geslaap het. Ek sou rus en vrede gehad het. Ek sou nou saam met belangrike mense soos konings en beroemde leiers gerus het. Ek sou gerus het saam met ryk prinse wat huise gehad het met baie goud en silwer in. Hoekom was ek nie maar ’n miskraam nie? Dan het ek nooit eers begin lewe nie. Slegte mense hou op om kwaad te doen as hulle dood is en moeë mense kry kans om te rus. Selfs mense wat gevangenes is, ontspan as hulle dood is. Die bewaarder verskree hulle nie daar nie. Daar is ryk en arm mense gelyk. Daar is ’n werker vry van sy baas. “Hoekom laat die Here mense lewe wat swaarkry? Hoekom lewe mense wat verbitterd is? Hulle wens hulle kan doodgaan, maar dit gebeur nie. Hulle wil so graag doodgaan dat dit erger is as iemand wat fanaties na ’n skat soek. Hulle kan nie aan iets dink wat hulle blyer sal maak as om dood en begrawe te wees nie. Hoekom moet ’n mens lewe as dit lyk of daar nie ’n toekoms is nie en jy deur God van alles afgesny is? Ek sug so baie, dit is soos my kos wat ek eet. Ek leef daarvan. My gekla is soos water wat net aanhou loop. Die dinge wat ek nog altyd voor bang was, het nou met my gebeur. Ek het nie kalmte en vrede nie. In plaas daarvan dat ek rustig voel, loop alles net verkeerd.”