JOHANNES 8:31-59

JOHANNES 8:31-59 AFR83

Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees. Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie. Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.” Hulle het vir Hom gesê: “Ons vader is Abraham.” Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen wat julle vader gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.” Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie! Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen. En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.” Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!” Jesus het geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter. Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.” Die Jode sê toe vir Hom: “Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’ Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?” Maar Jesus antwoord: “As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’ en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte. Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.” Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.