Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie – hoe kan u sê, ‘Julle sal vry word?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees. Ek weet dat julle die nageslag van Abraham is, maar julle probeer My doodmaak, omdat julle geen ruimte vir my woord in julle laat nie. Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het, maar julle tree op volgens dit wat julle by julle vader gehoor het.”
Hulle het Hom geantwoord: “Ons vader is Abraham.” Jesus sê vir hulle: “As julle werklik kinders van Abraham was, sou julle die dade van Abraham gedoen het. Maar nou probeer julle My doodmaak – vir My, wat die waarheid wat Ek by God gehoor het aan julle verkondig. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die dade van júlle vader.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Ons is nie uit hoerery gebore nie. Ons het een Vader, naamlik God. ” Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het, want Ek het van God af uitgegaan en nou is Ek hier. Ek het ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my woorde nie werklik kan hoor nie. Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af 'n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy 'n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar en die vader daarvan is. Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie van julle kan sonde by My uitwys? As Ek die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Dit is waarom julle nie luister nie, omdat julle nie uit God is nie.”
Die Jode het Hom geantwoord: “Het ons nie met reg gesê dat jy 'n Samaritaan is en 'n demoon het nie? ” Daarop sê Jesus: “Ek het nie 'n demoon nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. Ek is nie op soek na eie verheerliking nie; daar is Een wat dit wel vereis, en Hy beslis daaroor. Amen, amen, Ek sê vir julle: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie sien nie.” Die Jode het toe vir Hom gesê: “Nou weet ons vir seker dat jy 'n demoon het. Abraham het gesterf en ook die profete, en tog sê jy, ‘As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie smaak nie. ’ Jy is tog nie belangriker as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterf. Vir wie gee jy jou uit?” Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, Hy van wie julle sê, ‘Hy is ons God.’ Julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom. En as Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek bewaar sy woord. Abraham, julle vader, het daaroor gejubel dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie vyftig jaar oud nie, en jy het Abraham gesien?” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle, Ek Is al van voordat Abraham gebore is. ” Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus het hulle ontduik en die tempelterrein verlaat.