JOHANNES 4:7-14

JOHANNES 4:7-14 AFR83

Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid