Johannes 4:7-14

Johannes 4:7-14 AFR20

Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?” Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. ”